Podlitiek: Noah van links geslaan, Eskom en die Soewereine Staat van die Kaap

Die landsvlag is gestryk en die “Soewereine Staat van Goeie Hoop” se vlag is vroeër in Juliemaand gehys. Foto: Verskaf.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie spitsvondige episode gesels Podlitiek se twee gereelde aanbieders, Paul Maritz en Daniël Eloff en die gasaanbieder, Daniel du Plessis, oor Trevor Noah se Twitter-oproer, die nuutste gebeure oor Eskom en China se betrokkenheid by die sukkelende staatsorgaan en laastens oor die idee van ’n onafhanklike Kaap-buurland.

Soos dit al meer die gewoonte raak, het een van die afgelope week se grootste nuusgebeure op Twitter ontaard. Die Suid-Afrikaanse komediant, Trevor Noah, het ernstige kritiek ontvang oor ’n grappie wat hy in 2013 oor Australiese inboorlinge gemaak het. Alhoewel die Podlitiek span glo dat hierdie grappie geensins snaaks of aanvaarbaar is nie, bespreek die drie aanbieders die ironie van die kritiek wat Noah ontvang van liberale media in die VSA.

Verder bring Paul ons op hoogte van die nuutste gebeure by Eskom en bevraagteken die twee Daniels (Eloff en du Plessis) die betrokkenheid van China by Eskom. President Ramaphosa het groot beleggings vir Eskom verseker, maar teen watter prys en in ruil vir wat is hierdie ooreenkoms aangegaan? Die feit dat die Brics-beraad hierdie week plaasgevind het, plaas hierdie kwessie in die kollig.

Laastens bespreek die gasaanbieder, Daniel du Plessis, die idee van afstigting binne die Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie vind natuurlik teen die agtergrond van Koning Khoebaha Calvin Cornelius III se aankondiging dat die Soewereine Staat van die Kaap van Goeie Hoop afgestig het van die Republiek van Suid-Afrika af. Afstigting onder die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet blyk om nie moontlik te wees nie. Artikel 1 van die Grondwet verwys na “een, soewereine, demokratiese staat”. Artikel 235 van die Grondwet maak voorsiening vir selfbeskikking van gemeenskappe, maar slegs binne die bestaande grense van Suid- Afrika en net indien dit deur nasionale wetgewing voorsien word. Met ander woorde, tensy die Parlement ’n wet instel wat hierdie bepaal, kan dit eenvoudig nie deur ’n vlag en Facebook-video gebeur nie.

Die span sluit af deur te sê dat die saga oor oudpresident Zuma se regskostes fyn dopgehou moet word. Laastens waarsku Paul dat die uitspraak in die hooggeregshof rakende nagenoeg 400 000 wapens in besonder bestudeer moet word en dat hierdie saak bepalend is in die stryd vir geweerregte in die land.

Ons moedig jou aan om die gesprek in die kommentaarafdeling voort te sit en om Podlitiek op Iono.fm en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Dream on ·

Hierdie is nou die grootste joke wat ek nog ooit in my lewe van gehoor het of gesien het. Hierdie mense is heeltemal die kluts kwyt .. een groep is religious en die ander groep wil die wapen opneem, die een groep haat die ngunis en die ander groep love die Khoisans . wat ‘n grap . niemand het ‘n plan nie . hulle staan en wag vir die koning om ‘n plan te maak. Toe ek hoor mense moet solank gereed maak om erens INFORMELE huisies of containers te gaan opslaan het ek besef hierdie skil gaan nooit seil nie. Dit is ‘n pipe dream . en die arme wittetjies hardloop nou so agter die Khoi’s aan want hulle gee darem nou vir hulle ook om. Meestal werklose mense wat hierdie as ‘n opsie sien. Ek sien net 10 mense elke keer buite die hof. Zuma het 2000 mense wat vir hom ‘n nagwaak hou, Koning Cornelius het 7 makkers wat saam met hom hof toe gaan en die vlag rondswaai. Ek kan nie glo dat enige nugter mens dink hierdie is uitvoerbaar nie.

Paul Maritz ·

Dankie dat jy geluister het! Hoe stel jy voor moet Suid-Afrikaners die toekoms aanpak en ingaan?

Maartin ·

Dit is nou eers die begin van kaapse onafhanklikheid. Die kapenaars se ekonomie is so internasionaal en die res van die land trek hulle af. Hoe meer mense sien hoe SA ondergaan hoe meer gaan begin harder praat vir ‘n onafhanklike Kaap. Die Kaap kan ‘n eerstewereldland word as hulle losbreek.

Riaan le Roux ·

Puik! As ek een ding kon vra, sou dit net wees vir meer (langer episodes)! Ek geniet elke episode opreg, selfs al stem ek nie met alles saam wat gese word nie ?

Daniël ·

Baie dankie vir die saam luister Riaan! Ons is dankbaar wanneer ons luisteraars nie altyd saam stem met wat gesê word nie. Ons wil juis sterk standpunt inneem en debat en diskoers bevorder.

Jy kan gerus die blad dophou. Ons gaan binnekort begin met langer onderhoud episodes waar ons met bekende denkers in die land gesels oor filosofie, politiek en geloof.

Johan ·

Ek stem saam oor die langer episodes. Dis juis wat podcasts lekker maak. Dis ook wat Ben Shapiro en kie so suksesvol maak, die feit dat daar behoorlike en volledig oor goed gesels kan word. Dalk kan julle die episodes bietjie mix en match?

Barry H ·

Ek vind Trevor Noah se humor nie regtig snaaks nie, stem saam dat sy komedie nie genuanseerd is nie, Daniël!

Adoons ·

Ek weet darem nie of ons werklik kan sê dat bra Cornelius se mannewalles ons land nader in die rigting van federalisasie stoot nie. Inteendeel dit maak dat afstigting verspot lyk en asof die mense nie ernstig is oor selfbeskikking nie.

Reinhardt ·

Ek stem saam. Maar ek dink daar kom iet positiefs van dit: skielik praat mense oor dit. Daar is alreeds partye wat voorstaanders is van selfbeskikking waarvoor n mens kan stem. Onder meer die Cape Party. Dis dalk ‘n idee vir n toekomstige podcast.

Ouens, ek geniet werklik die podcasts wat julle maak. Die produksie is professioneel en klank gehalte goed. Ek deel die sentiment van die ouens hierbo, maak dit langer. 20min is eenvoudig te kort om sulke genuanseerde onderwerpe aan te pak. Miskien kan jul meer gaste kry op die show wat dalk drastiese ander opinies van jul het, en dan bespreek julle dit in detail. Persoonlik sal ek verkies dat die podcast al op n vrydagoggend vroeg beskikbaar is, sodat ek dit in die kar oppad werk toe kan luister. Maar dis maar ek haha.

Daniël ·

Beste Reinhardt,

Baie dankie vir die saam luister en kommentaar.

Dis altyd ‘n fyn balans tussen ‘n lang episode wat in diepte sake bespreek en ‘n kort episode wat vol energie en aksie is.

Ons gaan binnekort met ‘n reeks onderhoude begin waar ons met bekendes en denkers gesels oor filosifie, politiek en geloof. Ons beoog om die episodes lekker lank te maak sodat ons in diepte gesprekke en debatte kan hê.

Hou dus hierdie spasie dop! ;)

Coert ·

Dankie vir uitstekende analise. Ek hoop die kaap word onafhanklik, ek sal al my beleggings onmiddelik daarheen skuif.

Een ·

Sal graag wil hoor of julle realisties glo dat Suid-Afrika sal federaliseer? En indien wel hoe word dit verdeel?

Paul Maritz ·

Wel, Een, dit is ‘n baie interessante vraag. Die Vryemarkstigting het meer as twee dekades terug landroshofdistrikte voorgestel, wat myns insiens logies sin maak. Die idee is eenvoudig, laat hierdie distrikte soos Switserse kantons funksioneer wat oor ‘n klomp sake besluite kan maak. Deur besluite te desentraliseer word die lang kommunikasieketting verkort, die sentrale regering kan fokus op dit waarop hy moet, en deur dan nog sekere sukkelende instansies te privatiseer verlig ons die staat se besluitnemings- en regeringslas, waaraan hul duidelik swaar dra, nog verder. As almal in Zurich Duits wil wees, laat hulle, en as almal in Geneve Frans wil wees, laat hulle, en as almal in Centurion Afrikaans wil wees… wel… jy kry sekerlik die idee.

Reinhardt ·

Paul, ek deel 100% daardie siening. Die Switserse kanton sisteem is ook, in my opinie, die beste oplossing. Ons sit eenvoudig met te veel kulture en tale. As almal in Stellenbosch, die Paarl, Somerset-wes en Durbanville Afrikaans wil wees… hoekom dan nou nie?

gatiep ·

Op die oomblik is dit net n klein saadjie wat geplant is.
Pasop as hy genoeg water kry gaan dit verander in n magtige boom.
En ek hoop regtig die wat so negatief is oor dit bly agter in SA.Party mense wil alles groot begin dan flop dit.
Bigin klein en jy speel veilig.
Dit gaan n waarheid word of mense dit nou so wil he of nie.

PJ ·

Stem 100% saam met n “Kanton” sisteem! Leon Louw en Francis Kendal het n book gesdryf in die laat ’80’s hoekom SA moet in n kanton sisteem omskakel op die ou “magisterial” … maar ek dink ons kan maar net droom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.