Podlitiek: Numsa Party gestig, Discovery betig en Malema ontwrig

Argieffoto van ‘n Cosatu-betoging deur lede van Numsa

Opgestel deur die Podlitiek-span

Daar is altyd iets nuuts uit Afrika – en vandeesweek is dit sommer ʼn nuwe politieke party. In hierdie week se episode bespreek die Podlitiek-span die vakverbond Numsa wat onlangs ʼn politieke party gestig het, mediese skemas en AfriForum wat op die EFF se bates wil beslag lê.

Numsa, vakverbond vir werkers in die metaalindustrie, het uiteindelik daarin geslaag om amptelik die Onafhanklike Verkiesingskomitee (OVK) se toestemming vir die stigting van sy party, die sogenaamde Socialist Revolutionary Workers Party te kry. Hoewel Numsa sedert 2013 in hierdie rigting praat, het talle faktore (soos onderlinge ideologiese verskille en onderonsies met die OVK) die party se amptelike bekendstelling tot in Desember 2018 uitgestel. Daniël Eloff noem dat die party klaarblyklik poog om die “kapitalistiese status quo omver te werp”, maar twyfel of Suid-Afrika werklik so erg kapitalisties is. Die span is onderling verdeel oor of hierdie, in die breë gesien, goed sal wees vir Suid-Afrika se demokrasie. Aan die een kant is dit moontlik dat die nuwe party die EFF en ANC se steun sal verdeel – en enige onmin aan daardie kant van die ideologiese spektrum is goed vir die ekonomie en politiek. Aan die ander kant is dit nie heeltemal duidelik dat die Suid-Afrikaanse politiek nóg ʼn party van onredelik retoriek sal kan oorleef nie – daar is immers reeds nie juis ʼn oorvloed van begrip en redelikheid nie.

In die afloop van die beleggingskonferensie, illustreer Discovery Medical se teenwoordige situasie presies die probleem met die regering se benadering tot besigheid en beleggings. Discovery, as oorhoofse maatskappy, het onlangs onderneem om die groter deel van R13 miljard in SA te belê, maar hoe lyk die sake-omgewing wat hulle nou binnegaan? Die Raad vir Mediese Skemas het ʼn Discovery-produk, gemik op mense met lae inkomstes, afgekeur omdat dit nie voldoen aan die voorgeskrewe minimum voordele nie. Waarom nie mense vertrou om self te besluit waarteen hul verseker nie? Dit is immers die verskil tussen ʼn produk van R2 500 en R200 – en, as gevolg van die regering se inmenging, is dit veel meer bekostigbaar om ʼn redelike skaflike begrafnispolis te koop as om ʼn mediese fonds te hê. Tot 2 miljoen mense, volgens gesondheidsekonome, kan deur hierdie presedent ontneem word van die geleentheid om mediese dekking te hê – en dis juis die armste van die armes. So word die staatshospitale ook net verder onder druk geplaas.

Daar is wel ook ʼn paar ligpunte in die nuus. Paul druk, as laaste onderwerp, sy blydskap uit oor AfriForum se beoogde opeis van sommige van Julius Malema se persoonlike bates (onder meer sy waardevolle Breitling-horlosie) om hofkostes te delg. Dit is bemoedigend om te sien dat politici soms tot verantwoording geroep word, veral aangesien daar onder Malema en sy trawante al lank ʼn kultuur van traak-my-nie-agtigheid bestaan. Selfs in hul termyn as ANC-jeugleiers was daar talle rekeninge nie betaal nie.

Ter afsluiting kyk Podlitiek na enkele positiewe punte van die afgelope week se nuus. Daniel du Plessis is bly om te hoor dat Tom Moyane uiteindelik afgedank is – hoewel hy nie noodwendig teen ʼn disfunksionele Jan Taks gekant is nie. Daniël Eloff is weer baie beïndruk met beter funksionaliteit wat die FNB se nuwe app bied – dit is nou selfs moontlik om huise direk aan kopers te adverteer. Paul spreek sy waardering uit vir die privaat sektor se volgehoue bydrae aan Suid-Afrika en, in die besonder, vir Engen se pogings om slagoffers van die Kaapse brande by te staan.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Reinhardt ·

Goeie werk! Ek wil net sê ek sien weekliks ongelooflik baie uit na die podcast, en julle het my ook ingelig oor ander soos The Rational Standard en Renegade Report, wat ek glad nie geken het nie. Alles is goeie podcosts, en ek stem saam, ek dink ek verkies dit as my bron van nuus. Ten minste kan ek dan mense vind wat soos ek dink, plaas van om geirriteerd te raak met mense se opinies wat net eenvoudig partydig is of halwe waarhede is.

Daniel Eloff ·

Baie dankie vir die getroue saam luister en ondersteuning Reinhardt! Ons waardeer dit opreg en hoop om vir jou elke week ‘n goeie gehalte program te bied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.