Podlitiek: NVG se nuwe hoof, staatsinstellings se pampoene, onteiening kry hardloopskoene

Adv. Shamila Batohi (Foto: GCIS)

Opgestel deur die Podlitiek-span

Ten spyte van deurlopende beurtkrag, kon die Podlitiek-span iewers die geleentheid vind waar die ateljee nie net beskikbaar was nie, maar waar Eskom toevallig so gaaf was om ook elektrisiteit te verskaf. Hierdie week bespreek hulle die nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, die probleme by Eskom en die SAUK, asook die verslag deur die grondwetlike hersieningskomitee wat deur die Nasionale Vergadering aangeneem is.

Die afgelope paar jaar het Suid-Afrikaners gewoond geraak aan groot skandale, rampspoedige politieke gebeure en ’n ekonomie wat al ewig swakker word. Dit is dus met groot vreugde dat die eerste onderwerp in vandag se episode nie, soos dit al gewoonte geword het, ’n negatiewe een is nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag het vir jare onder die voormalige hoof, Shaun Abrahams, se leiding gely. Die aanstelling van Shamila Batohi word dus versigtig verwelkom. Batohi is bekend vir haar betrokkenheid by die vervolging tydens die Hansie Cronje-wedstrydknoeierysage en ook haar werk as ’n aanklaer by die Internasionale Strafhof. Die groot vrae oor Batohi se bevoegdheid om die NVG se probleme uit te stryk, sal eers beantwoord word wanneer die tekkie die teer tref.

Die tweede onderwerp wat die span bespreek, is oor die verwikkelinge by die SAUK en dat die liggaam maar deur lewensboeie aan die gang gehou word. Paul Maritz neem die gesprek verder deur die kollig (die een wat met batterye werk) op Eskom, nog ’n sukkelende staatsinstelling, te plaas. Hy wys daarop dat Eskom in 1993 sowat 39 000 megawatt totale kapasiteit gehad het en dat dit nou op 37 000 megawatt staan. Die voortdurende verval van Eskom hou ’n groot ekonomiese gevaar vir Suid-Afrika in.

Verder bespreek Daniel du Plessis die gevolge wat die wysiging van artikel 25 vir ons land inhou. Dit natuurlik teen die agtergrond van die Nasionale Vergadering wat die week die omstrede verslag deur die grondwetlike hersieningskomitee aangeneem het. Hierdie begin dus die proses om artikel 25 van die Grondwet te wysig. Daniël Eloff spreek sy kommer uit oor wat dit vir die toekoms van die land beteken en hoe grondonteiening sonder vergoeding geen probleme in Suid-Afrika gaan oplos nie.

Soos dit Podlitiek se gebruik geword het, sluit ons die episode af met ’n paar positiewe nuusgebeure van die afgelope week. Die eerste hiervan is die aankondiging wat alle Suid-Afrikaners se beursies gelukkig gaan maak, naamlik dat die brandstofprys met R1,84 gedaal het. Tweedens: Daniël Eloff noem dat Kuba onlangs besluit het om vir sy bevolking toegang tot die internet te gee.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.