Podlitiek: OB pleit, Grondverslag bring verwyt en SA nog werke kwyt

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die Opbenbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto:
Phando Jikelo/ANA)

Die Amerikaanse outeur Simon Sinek het eenkeer gesê dat meer inligting onder alle omstandighede beter is as minder inligting – juis om die rede van meer inligting, en beter begrip van die beskikbare inligting, is Podlitiek ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede op die been gebring.

Hier word braaivleisgesprekke oor die land, sy nuus, en sy politiek maklik en lekker gemaak, met vier jong stemme wat saamstem en verskil oor alles en nog wat.

Hierdie week se episode spring weg met ʼn ontleding van die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkwebane, se stryd om haar eie vermoëns in ere te herstel, midde in klagtes wat uit alle oorde, ook die van die staatspresident, op haar neerdaal. Ernst van Zyl, ʼn ontleder en veldtogkoördineerder van beroep, kyk na hoe die OB haarself in hierdie posisie geplaas het, en wat haar nou te doen staan.

ʼn Volgende onderwerp wat hierdie week smeek om bespreek te word, is die reaksies wat daar op die presidensiële komitee oor grondhervorming se verslag, wat verlede week uitgereik is, was. Die Ingonyama Trust, wat in besit van die meeste Zoeloe-volksgrond is, het vandeesweek gewaarsku dat dit nie eens is met die aanbeveling dat trustgrond deur die staat bestuur behoort te word nie. Die Podlitiek-paneel debatteer dan die gedagte van die reg tot privaat eiendom, en wat dit inderwaarheid behels en beteken vir die Suid-Afrikaner.

Met die kwartaallikse arbeidsmarkoorsig wat onlangs uitgereik is, kan Podlitiek nie anders nie as om met soveel ontleders te eggo dat die skrif aan die muur blyk te wees in terme van president Cyril Ramaphosa se omkeerstrategie. Met jeugwerkloosheid oor die 56%, en ʼn totale werkloosheid van 10,2 miljoen mense, is daar groot rede tot kommer. Tog, ondanks dit alles, word niks gesê oor die inperk van vakbonde se magte, die liberalisering van arbeidswetgewing, of die verromantisering van Suid-Afrika as beleggingsbestemming nie.

In hul internasionale segment van hierdie week bespreek die paneel die massaskieterye wat oor die afgelope naweek in die VSA plaasgevind het – met spesifieke verwysing na die verskille tussen die skieterye, wapenwetgewing en mediadekking.

Is jy moeg daarvoor om nie te kan saampraat om die braaivleisvuur nie? Podlitiek is die antwoord vir jou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

The fight of the SA Titans… elkeen met ‘n kwesbare Achilles-hakskeen. En wie betaal uiteindelik vir die gelag?

lewies ·

Die een blinde lei nou die ander blinde in Suid-Afrika? Gaan maar aan met julle BEE. Daar is baaaie belastingbetalers in hierdie land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.