Podlitiek: Onderhoud met Waldimar Pelser

Opgestel deur die Podlitiek-span

Waldimar Pelser se boke.

In die volgende episode van hul onderhoudreeks gesels Podlitiek met Waldimar Pelser, hoofredakteur van Rapport en aanbieder van die KykNET-program Verslag in Gesprek.

Paul Maritz en Ernst van Zyl het met Pelser in die ateljee gesels oor onder meer die media, die ontwikkeling en toekoms van die media, asook Pelser se nuwe boek, In gesprek met Waldimar – 100 beste ontledings, inleidings, en beledigings.

Die verandering in die media die afgelope 20 jaar het eers aan die beurt gekom. Pelser verduidelik hoe mense wegbeweeg het van mediums soos televisie en gedrukte pers na ʼn situasie waar enigiemand basies ʼn joernalis kan wees danksy die manier hoe tegnologie die media verander het.

Dan word die plek en die toekoms van Afrikaanse media bespreek, met Pelser wat ook hieroor sy standpunt duidelik stel.

Die Podlitiek-span wou ook by Pelser weet of hy nie dink die media sit agter die populariteit, of ten minste die berugtheid van die EFF nie – Pelser glo egter vas dat dit nie die geval is nie, en stel sy mening duidelik.

Die gesprek maak draaie by die stilmaak van groot mediahuise wat tans plaasvind, die opslurping van Amerikaanse kultuur deur Suid-Afrika, en selfs Pelser se amper profetiese aanbeveling dat die DA ʼn ander leier moet kry, iets wat hy reeds aan die begin van 2018 aanbeveel én as moontlikheid voorspel het.

In ʼn tyd waar min mediamense werklik nog bereid is om onverpoos te sê wat hulle oor ʼn saak dink en blatant te wees oor die feite, al gee dit aanstoot, bespreek Podlitiek dan ook met Pelser die fyn grens tussen verslaggewing en kommentaar, en wat die belangrikheid van elk is.

Hierdie onderhoud bied ʼn vars blikkie op die media – luister gerus saam!

Ernst van Zyl, Waldimar Pelser en Paul Maritz.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Dit is ‘n insiggewende onderhoud vir soverre dit jou in staat stel om te hoor hoe Waldimar die wêreld om hom sien en ervaar. Die Podlitiek manne het uitstekend daarin geslaag om Waldimar die praatwerk te laat doen sonder om hom met hul persoonlike persepsies te konfronteer. Ek sou graag in die toekoms ‘n debat tussen hierdie 3 jong manne wou sien oor sekere van die onderwerpe wat onder bespreking was. Hierdie soort gesprekke waar ons na mekaar luister instede van skree is ook nodig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.