Podlitiek-onderhoude: Gerhard de Beer maak naam in VSA-voetbal

gerhard-de-beer-twitter

Gerhard de Beer. Foto: Twitter.com

Opgestel deur die Podlitiek-span

In die eerste onderhoudepisode van 2019 het Paul Maritz en Daniël Eloff vir Gerhard de Beer saam met hulle in die ateljee. De Beer is ’n professionele Amerikaanse voetbalspeler vir die Green Bay Packers.

In hierdie unieke episode vertel De Beer hoe sy pad geloop het om van matriekseun aan die Afrikaanse Hoër Seunskool te vorder tot professionele voetbalspeler vir die Green Bay Packers in Wisconsin, Amerika. De Beer het met ’n atletiekbeurs die geleentheid gekry om in die VSA te gaan studeer en het ’n BCom-graad verwerf tussendeur sy sportverpligtinge.

Ná universiteit het De Beer vir die Buffalo Bills gespeel en die volgende seisoen het die Green Bay Packers, die suksesvolste span in die National Football League (NFL) se geskiedenis, met hom ʼn kontrak aangegaan om vir hulle te speel. De Beer begin reeds hierdie jaar met sy voorbereiding vir die komende jaar se liga.

De Beer vertel in dié episode hoe hy die VSA beleef en lig ’n paar kultuurverskille tussen Suid-Afrika en Amerika uit. Dit is opmerklik hoe geloof nie slegs (en steeds) ’n belangrike rol in professionele sport in die VSA speel nie, maar vir De Beer in die besonder.

Hy bespreek ook die ooreenkomste en verskille tussen Amerikaanse voetbal en rugby en dié episode beklemtoon hoe genadeloos die wêreld van professionele sport soms kan wees. Die episode is oop en eerlik, en De Beer is nie skaam om te vertel hoe alles nie altyd maanskyn en rose in professionele sport is nie. Op sy selfoon se agtergrondskerm is ʼn aanhaling wat De Beer daagliks daaraan herinner dat sy toekoms in sy eie hande is en dat hy altyd hard sal moet werk om sy doelwitte te bereik.

Luister gerus na hierdie interessante episode oor dié jong Afrikaanse man wat vir homself naam maak in die VSA.

  • As jy belangstel in die ontwikkeling van Afrikaans as navorsings- en denktaal, dan is hierdie episode perfek vir jou. Podlitiek bring met trots vir jou as luisteraar en leser hierdie unieke langformaat-podsending in die Afrikaanse digitale media. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nelia van Zyl ·

Hartlike groete aan Gerhard de Beer wat in Graad 12 by my in die klas was vir Afrikaans. Ek is baie trots op jou Gerhard!

Daniël Eloff ·

Beste Juffrou van Zyl,

Namens myself en Daniel du Plessis, twee ander oud leerders van Juffrou, baie dankie dat Juffrou na die episode geluister het.

Ons hoop ons taalgebruik op die podsending stel nie teleur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.