Podlitiek-onderhoude: Martin van Staden praat oor libertynse vrydenkers

martin-van-staden-en-daniel-du-plessis

Martin van Staden, ‘n regsnavorser by die Vryemarkstigting, het met Daniel du Plessis van die Podlitiek-span gesels. Foto: Podlitiek.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Met die tweede episode van Podlitiek se onderhoudreeks gesels Daniël Eloff en Daniel du Plessis met Martin van Staden. Martin is ’n regsnavorser by die Vryemarkstigting en ook die hoofredakteur van beide die Rational Standard en Being Libertarian.

Die episode word afgeskop deur met Martin te gesels oor sy eie politieke ideologie en filosofie as ’n libertyn (libertarian) oftewel vrydenker. Martin bespreek hoe libertisme in die Suid-Afrikaanse konteks nog nie duidelik is nie en dat dit maar grootliks gesetel is binne die liberale geskiedenis van die land. Hy vergelyk ook hoe dit afsonderlik ontwikkel het in beide die VSA en in Suid-Afrika, maar dat die vertrekpunte eenders is.

Verder bespreek Daniel met Martin die twee hoofstroomdenke in die libertynse filosofie en word daar gedebatteer oor hoe libertisme prakties in die land toegepas kan word. Die ou vraag van hoe paaie gebou kan word sonder enige staat, word deeglik deur Martin bespreek en hy verduidelik hoe hy sy ideale staat sien as ’n beperkte een wat slegs die reg tot lewe en eiendom beskerm.

Beide die Podlitiek-aanbieders plaas libertisme onder die kollig en bespreek hoe dit prakties kan plaasvind maar ook hoe dit regverdigbaar kan wees in ons land se baie bepaalde sosio-ekonomiese omstandighede. Martin se kritiek teen die staat wat die werklike struikelblok tot ekonomiese bevryding is, word opgeweeg deur die aanbieders en Martin word gevra om aan te dui hoe ware vryheid in Suid-Afrika kan lyk.

Martin bespreek verder die werk wat die Vryemarkstigting doen om grondonteiening sonder vergoeding te stop en hoe die organisasie individue bemagtig deur vir hulle titelaktes – en dus eiendomsreg – van huise en grond te gee om werklike ekonomiese transformasie te bewerkstellig. Hy sê ook dat ons moet besef hoe ernstig hierdie besluit in ons land se geskiedenis is en dat die bewoording van artikel 25 se wysiging belangrik gaan wees vir ons land se toekoms.

Die episode word afgesluit deur Martin wat twee boeke voorstel vir enige persoon wat belangstel in die ekonomiese, maatskaplike en morele argumente ten gunste van libertisme.

Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louis ·

Lekker Martin! Jy doen te min onderhoude in Afrikaans dude.

Johan ·

Ek glo dat Ernst se voorlegging meer skade as goed gedoen het. Daar is nou geen hoop om grondonteiening sonder vergoeding te stop nie.

Juan ·

Nou hoef jy nie meer die kommuniste te blameer vir grondgryp nie!

John ·

n libertyn is nie n liberalis nie.
n libertyn is nader aan n konserwatief as wat hy aan n liberalis is – taal, kultuur en grense is die kern beginsel van n konserwatief en n libertyn kan werklik slegs sy individuele vryheid uitleef in n christen konserwatiewe samelewing.
n Liberalis het geen respek vir taal, grense en kultuur nie en is bereid om die goeie welstand van n samelewing op te offer vir die bevordering van die individu se mense regte – dit is absurd. Die noodlotige resultaat van n liberale samelewing is dat dit die voertuig word waardeur fassisme n samelewing annekseer hoofsaaklik omdat dit nie stappe kan implementeer wat n samelewing kan handhaaf nie, maar eerder die individu – en natuurlik die filosofiese veronderstelling dat elke mens inhirent goed is en instaat is om die hoogste sport te bereik gegewe die individu homself in die regte omstandighede bevind, rugsteun die narratief van die liberalis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.