Podlitiek: Peilings, afdankings, partye en buiteland

Argieffoto: Phillip Bruwer

Opgestel deur die Podlitiek-span

In vandag se episode van Podlitiek haal Daniël Eloff, Ernst van Zyl en Paul Maritz oudergewoonte die vergrootglas uit vir Suid-Afrikaanse nuus en politiek, deeglik bewus van die groot stemdag wat minder as ’n week weg is.

Die span spring weg deur te kyk na die nuutste meningsopnames wat deur die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV) en Ipsos onderskeidelik gedoen is. Onder sekere omstandighede, en met ’n laer uitkeersyfer, is die IRV van mening dat die ANC selfs onder die 50% kan daal – Ernst verduidelik waarom dit nie noodwendig die ideale gebeurtenis is nie, met die EFF wat dan koningmakers sal word. Ipsos bied ’n meer tradisionele voorspelling, met 61% vir die ANC, sou 71% van geregistreerde stemmers hul kruisies gaan trek. Die span bespiegel vir een laaste keer oor hoe die stemme gaan val.

Die volgende onderwerp op die Podlitiek-spyskaart is president Cyril Ramaphosa se besluit om Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi van die Nasionale Vervolgingsgesag af te dank, nadat die Mokgoro-kommissie bevind het dat beide persone nie voldoen aan die vereistes om hul posisies te beklee nie. Is die president se optrede ná afloop van ’n kommissie van ondersoek ’n teken van goeie skuiwe wat nog gaan kom, of net ’n rookskerm met die oog op die verkiesing?

Die derde onderwerp op die lys is die finale weergawe van politieke X-strale. Hierdie week word daar na die Vryheidsfront-Plus, die ZACP en COPE gekyk. Kan die VF+ die groei wat in onlangse tussenverkiesings gesien is volhou? Gaan die ZACP die nuweling van die jaar wees, en waarom, as COPE so sterk teen onteiening sonder vergoeding baklei het, staan dit nie in hul manifes nie? Hierdie en nog vrae word bespreek, soos wat die span die lot van hierdie sogenaamde kleiner partye oorweeg.

Suid-Afrika is natuurlik nie alleen op hierdie aardbol nie, daarom word ’n ogie ook na die buiteland gegooi. Venezuela is ’n land wat tans deur diep waters gaan, en Podlitiek bespreek sowel die mislukte staatsgreep wat verlede week probeer is, as waarom ons die tekens vir hierdie tipe gedrag in Venezuela lankal reeds moes sien kom.

Met die verkiesing maar ’n katspoegie weg, is nou die perfekte tyd om kennis oor die politiek en die politieke omgewing op te doen. Podlitiek ontnonsens die hele komplekse spul, en bied aan die luisteraar ’n duidelike en gebalanseerde mening oor die politiek van die dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Die ANC gaan ‘n laaste haas uit die hoed trek om stemme te trek en saam met die stoere ‘stem vir jou mense kom wat wil’-volsin, gaan mense maar weer vir hulle stem. Die stembriefie is lank en opgepot, wat die kies van ‘n embleem sal bemoeilik. Daar sal nie tyd vir lang wonder wees nie, wat die groot bekende partye sal baat. Daar gaan beslis klagtes oor stemknoeiery wees, want daar sal wees, ooreenkomstig die aard van die land tans… en staatskapery is steeds in die mode.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.