Opgestel deur die Podlitiek-span
Vanuit die diep dal van hul onderskeie slaapkamers, kom die vier lede van Podlitiek se paneel in die kuberruim bymekaar om die politieke en nuuswaardige gebeure van die afgelope week te ontnonsens. Vir die eerste keer sedert hul ontstaan (2018), is die lede van Podlitiek nie in mekaar se fisieke teenwoordigheid nie, maar, glo hulle, die mense verdien steeds die feite!
Die gereelde Podlitiek-luisteraar sal weet dat die manne van Podlitiek nie te ingenome is met die idee van sosialisme nie, inteendeel, die term som hul nagmerries op. Een van die probleme wat sosialisme dan juis bied, is te veel regering. Met die polisie wat heeltemal dronk van hul tydelike mag geword het, spring Podlitiek weg met hul eerste storie wat juis oor hierdie magsvergrype gaan. Video’s is tans in sirkulasie van polisielede wat mense opstote laat doen, en met sambokke in Hillbrow rondjaag. Die vraag moet egter gevra word: Kan die paar polisiemaglede wat hul tydelike magte misbruik, werklik as die norm voorgehou word wanneer soveel werklik goeie werk doen? Podlitiek debatteer hierdie kwessie behoorlik.
Volgende bespreek Podlitiek (al weer) die Menseregtekommissie se Buang Jones. Hy het berugtheid verwerf vir sy hantering van die Eben Etzebeth-sage, en sy nuutste stokperdjie is skynbaar om tannies te vervolg wat mede-inwoners van hul woonkomplekse lesings gee oor hoe ʼn mens hande moet was. Die treurige toestand van hierdie organisasie laat die vier jong mans wonder of daar nie groter en meer belangrike sake is, ware en ernstige menseregte vergrype, wat aandag behoort te kry nie.
Derdens bespreek Podlitiek vlugtig die afgradering deur Moody’s tot rommelstatus wat Suid-Afrika Vrydagaand van kennis geneem het. Dit behoort ons glad nie te verbaas nie, glo die span, juis omdat Moody’s ons eintlik maar net ’n kans gegee het om ons huis, en veral die deel van ons huis wat die ligte aanhou, in orde te kry. Ons het daardie kans duidelik verspil…
By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.
Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).
Dit is hoog tyd dat die owerhede ‘n verbod op ingevoerde produkte vanaf Sjina moet instel. Ek weet dit sal nie sommer gebeur nie, weens die BRICS ooreenkoms.
Die ander opsie is dat die private maatskappye dit kan doen, want ons Vêr sterk net Sjina in hul kwaad!
Dalk lê die oplossing om ‘n taakspan na Sjina te stuur en ‘n opname maak van produkte wat daar vervaardig word en dan fabrieke hier loods.
Ons Suid-Afrikaners het die kundigheid om dit te kan doen; ons het die mannekrag en so word werkloosheid ook verminder!
Ek sê maar net …