Podlitiek: Pompeo se opmerkings ontwrig, Trump neem Indiese vlug

Opgestel deur die Podlitiek-span

Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake (Foto: @SecPompeo/Twitter)

Podlitiek is baie soos beurtkrag, in die sin dat Podlitiek ook ten minste een keer ʼn week ʼn draai in jou lewe maak, en soms, op spesiale geleenthede, ʼn tweede of derde keer in jou sitkamer kom kuier.

Oudergewoonte is Podlitiek vandag terug met hul jongste uitsending, tot oorlopens toe gevul met kraakvars kommentaar, ʼn tikkie sarkasme, en lekkerlagoomblikke vir ʼn ieder en ʼn elk – amper soos ʼn basaar, behalwe dat daar minder politiek in Podlitiek is as by die organisasie van ʼn kerkbasaar. Dit is wel ʼn storie vir ʼn ander keer.

In hierdie week se episode kyk Ernst, Hermann, en Paul na die uitsprake van die VSA se topdiplomaat, Mike Pompeo, oor Suid-Afrika se voorgenome plan om eiendomsregte die nek toe te dien. Veral Ernst – oor hierdie saak wat tans die rondtes op Suid-Afrikaanse nuuskanale doen – spreek hom sterk hieroor uit, met Paul en Hermann wat getrou ondersteuning bied. Die gedagte dat ʼn land in vandag se tydgees sy mense van een van hul mees basiese regte wil ontneem, gaan die paneel se verstand te bowe…

ʼn Volgende draai wat die Podlitiek-span neem, is ná die reaksies op oudpresident FW de Klerk se opmerkings oor apartheid. ʼn Sekere nuusman, en voormalige redakteur van ʼn prominente dagblad, het vandeesweek besluit om terug te verwys na die “Heil-sage” wat die NWU se Potchefstroom-kampus in 2014 getref het. Hierdie herbesinning kom juis, so meen Podlitiek, om Theuns Eloff, hoof van die FW de Klerk Stigting, by te kom. ʼn Goedkoop hou, sou sommiges aanvoer. Paul, wat in 2014 baie betrokke was by hierdie hele situasie, bied die feite – luister gerus.

Met ʼn blikkie na die buiteland loer Podlitiek na verskeie kwessies, onder meer na Covid-19 oftewel die koronavirus, pres. Dondald Trump se besoek aan Indië, en nog so iets oor die Demokrate se interne verkiesing.

Daar is dinge wat ʼn mens maar kan mis, maar Podlitiek is nie so ʼn ding nie…

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

Maar daar is een kolosale verskil, as Podlitiek aan is, gaan die krag nooit af nie.

Johan Venter ·

Terloops, julle het nou maar so effe aan die Karonavirus geraak, baie effe, ek sien egter van gister af op webwerwe, ook Google nuus word bevestig die Chinese regering het Maandag ’n algehele verbod geplaas op die onwettige handel in wild en die eet van wilde diere. Ook verdere berigte oor die uitbreiding daarvan en hoe markte reageer, die JSE, maar julle is tjoepstil? As mens hier lees, gaan die omvang daarvan mens verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.