Podlitiek: Quest met waarheid, Mkhwebane dalk uit, en die grondstryd

Opgestel deur die Podlitiek-span

Richard Quest. Foto: CNN

In ʼn week waar die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se jaarvergadering in Davos leiers van oraloor byeen bring, kom die Podlitiek-span van oral in Pretoria bymekaar om te kyk na alles en nog wat in die Suid-Afrikaanse politiek.

Hierdie week kom die uitlatings oor Suid-Afrika van die bekende CNN-joernalis Richard Quest onder die vergrootglas asook die proses wat van stapel gestuur is om die Openbare Beskermer te verwyder, en die nuutste verwikkelings rondom die onteiening sonder vergoeding-kwessie.

Met Hermann, Ernst, Daniël, en Paul agter die mikrofone, spring Podlitiek weg met ʼn bespreking oor hoe die res van die wêreld se leiers ons ekonomiese situasie beskou. Richard Quest word gesien as een van die voorste joernaliste ten opsigte van geo-ekonomie, daarom is dit juis kommerwekkend dat Quest in ʼn onderhoud met Radio 702 se Bruce Whitfield dit uitdruklik gestel het dat hy nie ingenome is met Suid-Afrika nie. Bowenal pla dit hom dat daar geen inhegtenisnemings gemaak is na aanleiding van staatskaping nie, en dat die einste mense wat sake wil regruk, ook maar gedurende staatskaping in die kabinet was. Dis so amper asof Quest ook Podlitiek luister…

Op tuisfront bespreek Podlitiek die moontlikheid dat die Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane se loopbaan na einde se kant toe staan. Daniël noem dat daar ʼn ondersoek rakende haar posisie as advokaat is, wat belangrik is omdat die OB juis ʼn lid van die regslui moet wees. Podlitiek wonder hardop hoe lank Suid-Afrika nog onderworpe gaan wees aan Zuma-kaders wat eerder die belange van staatskapers beskerm as om die werk te doen waarvoor hulle aangestel is.

Die laaste plaaslike storie wat ondersoek word, is nogmaals die kwessie oor grond in Suid-Afrika.  Hermann brei daaroor uit dat dit van kernbelang is dat organisasies hul kommentaar oor die voorgestelde wetsontwerp indien voor of op 31 Januarie, wanneer die tydperk vir openbare kommentaar sluit. Die ANC se benadering tot hierdie wet, naamlik dat die howe nie betrokke moet wees by die bepaling van vergoeding nie, word deur Podlitiek as verdag beskou, met die bespreking wat hierdie taktiek deeglik blootlê.

In hul internasionale segment loer die paneel na die Wuhan-koronavirus – ’n virus wat reeds meer as 100 lewens in China geëis het.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Die vervolginsgesag is baie besig met dekades-oue sake uit die Apartheidsjare en kader na kader stel dit verwoed en onomwonde dat die eintlike culprits die ou Afrikanergarde was wat so lelik met die terrorists gehandel het. Geen een van die ou of nuwe ANC-vryheidsvegters was nog nooit ooit stout nie. Wie het die Kerkplein-moorde gepleeg?

Johan Venter

Ek sweer ek het met die kyk van CNN se Richard Quest video, gesien hoe druk Ramaphosa sy kop in die sand!