Podlitiek: Ramaphosa se kontant, EFF nasionale stilstand en Guptas gevang in buiteland

Opgestel deur die Podlitiek-span

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Soos die moedelose arts van ʼn vuisvoos verslaafde keer Podlitiek weer hierdie week terug met hul hande in hul hare en ʼn paar brokkies bitsige analise oor ʼn keurspel van die onweer bekend as die Suid-Afrikaanse politieke arena.

President Ramaphosa, die ridder op die Kaapse Wynlandgoedperd, is gevang met ʼn paar miljoen “Bucks”, blykbaar verkry deur die verkoop van ʼn paar van sy “bucks”, maar die Podlitiek-paneel lag so ʼn bietjie in die mou en so ʼn bietjie hardop vir die skynbare skynheiligheid wat hier te voorskyn gekom het. Waarheen nou vir die Ou Buffel se verkiesingveldtog aan die einde van die jaar?

ʼn Volgende dis op die politieke tafel vir die week is die nuus dat die Gupta-broers gevange in hegtenis geneem is in die Midde-Ooste (toevallige tydsberekening gegewe meneer Ramaphosa se situasie? Wie weet?) – maar geen jolyt sal in die strate van Pretoria gehoor word nie, omdat mense hier aan die suidpunt van Afrika lankal weet dat hofprosesse in Suid-Afrika soos ʼn uithouperderesies is: Die een met die meeste uithouvermoë, en genoeg geld om die perd gevoer te hou, wen gewoonlik…

Derdens loer die Podlitiek-paneel na die Roekelose Rooie, a.k.a. de heer Malema se dreigemente dat hy en sy kamerade in hul rooi gewade ten goede of kwade die land Vrydag tot ʼn stilstand sal bring weens die ewig stygende brandstofprys. Die ironie van reis na ʼn bestemde punt toe om oor reiskoste te staak ter syde, stem Podlitiek saam dat geen ekonomie kan groei as mense nie kan reis nie, maar waarom diegene in rooi getooi dink alles word beter getoi-toi weet ook net hulle…

Luister Podlitiek vir hierdie en meer!

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Paul Maritz, Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.), Ernst van Zyl (AfriForum) en Frederik van Dyk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Ja, die weer kan vinnig verander. En nou wil CR hê die gereg moet ook tyd gegun word om hul gang te gaan… Zuma s’n draal al langer as ‘n dekade. Wat gaan Cyril se speletjie wees? Uitstel en hoop op afstel of maak soos die Brit met die Russiese voornaam en vol bravade skreeu en oorlog verklaar teen ‘n verre land… Met onse weermaggie sal hy dalk ok maar die eerste opsie plus goeie forex-vooruisigte belowe.

annie ·

… En daar fire Cyril die Public Protector!! Die vere gaan waai…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.