Podlitiek: Ramaphosa sê nie veel, en matrieks weer op pad na die meul

Opgestel deur die Podlitiek-span

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika op 1 Junie na vlak 3 van die afsonderingsvlakke skuif. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Soos ’n lelie wat lyk asof hy wil-wil blom, is Suid-Afrika stadig maar seker besig om oop te maak, ná ons weens die Covid-19-pandemie in ons huise vasgekluister was. Hierdie veranderinge lei dikwels tot nuuswaardige gebeure, gebeure waarop die paneel van Podlitiek graag hul kommentaar duidelik wil stel. In vandag se episode praat Ernst van Zyl, Paul Maritz, en Daniël Eloff oor die president se onlangse toespraak, skole wat begin oopmaak, en die geweld waaraan hierdie inperkingstyd gekenmerk sal word.

Eerstens kom die president se toespraak rakende die skuif na vlak 3 aan die beurt. Weer eens is daar baie woorde, maar min werklike inhoud gewees. Buiten vir die toelating van drankaankope vanaf 1 Junie, het die president nie veel vir Suid-Afrikaners gegee om na uit te sien nie. Die Podlitiek-span voel dat president Ramaphosa besig is om sy skare te verloor, en dat selfs die mees getroue Ramaforieërs hul vertroue in die eerbare staatshoof begin verloor.

Volgende aan die beurt is die nuus dat skole reeds vandeesweek vir personeel geopen het en binnekort vir matrieks en gr. 7’s ook gaan open. Ongelukkig is daar, soos wat dit maar gaan, diegene wat nie ten gunste van kinders se terugkeer na skole is nie. Die Podlitiek-span gee ’n klokhelder opinie oor wie dit is wat pro-terugkeer is, en waarom, asook wie die partye is wat eerder Jan Tuisbly se karretjie vir skoliere sal laat ry, en watter motiewe hulle dryf.

Derdens word daar vir die soveelste keer gekla oor die manier waarop die Suid-Afrikaanse weermag en polisie ons tydens die inperking hanteer het. Die getroue Podlitiek-luisteraar sal weet dat die paneel veral bekommerd is oor die ontplooiing van soldate om burgerlikes in hul erwe te hou. As dit nie ’n duidelike magsvergryp is nie, wel, dan is niks sekerlik magsvergryp nie?

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilhelm ·

Goeie werk soos altyd! Ek verskil op die punt wat daar indirek gemaak is dat die regering sukkel om ‘n balans te kry tussen die ekonomie en om mense veilig hou. Nie een van hierdie 2 opsies is vir hulle krities belangrik nie, veral nie die ekonomie nie. Hulle eind doel is sosialisme en hulle gaan dit bereik deur mense afhanklik van die staat te maak. Die ekonomie wat ons het is gebou op kapitalisme, dit gee aan ons mag want dit gee aan ons onafhanklikheid van die staat. Hulle hou nie daarvan dat ons mag het nie, hou nie van besighede, kapitalisme en die ekonomie nie. Hulle sal aanhou om besighede en die ekonomie te onderdruk so lank hulle daarmee kan wegkom. Die virus het vir hulle die perfekte voertuig geword om kapitalisme mee af te breek en hulle sosialistiese agenda deur te voer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.