Podlitiek: Ramaphosa word verdring, deur misdaad omring

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die Podlitiek-span hervat vandeesweek hul nimmereindigende kruistog teen feitefoute, propaganda en algemene politiekery.

Daniel du Plessis begin deur op te merk dat dit eintlik maar ’n klein ou wêreldjie is – en dat toevallige ontmoetinge met ou kollegas en vriende soms totaal onvermydelik is. Een so geval is natuurlik in die afgelope week, waar Muhamupelo, Magashule, Zuma, en lede van die vroueliga en Jeugliga – heel toevallig – by die Maharani-hotel naby Durban ontmoet het. Hoewel sommige mag bespiegel dat dit dalk die een of ander dreigement vir Ramaphosa mag inhou, spreek die span (dalk ietwat sardonies) hul vertroue uit in die ANC se bewese leierskapstabiliteit.

Daniël Eloff spreek daarna sy kommer uit oor die nuutste misdaadsyfers. Soos met laas episode se bespreking van die BBP-syfers, maak die span ’n paar afleidings uit die rou data. Ongelukkig – en in drastiese kontras met die BBP – is misdaad in Suid-Afrika nie in ’n resessie nie. Moord, onder meer, het gemiddeld met 7% in een enkele jaar gestyg – ’n drastiese toename. Dit is egter nóg meer kommerwekkend dat dié syfers grootliks te wyte is aan groot stygings in sekere gebiede (van 50% tot 70%. Daniël merk wel op dat, met hierdie jongste syfers, dit lyk asof Agri SA se beweerde 47 plaasmoorde dalk effens die omvang van die probleem onderskat het.

Paul neem die geleentheid om ’n bespreking te ontlok op ’n nouverwante onderwerp: AfriForum se parlementêre voorlegging op 6 September – en met ’n spesifieke fokus op die driftige mediareaksie wat dit gekry het. ’n Driftige bespreking van hierdie kwessie laat ons tot die gevolgtrekking kom dat, ongeag die presiese toon van die voorlegging, dit die tipe argumente bevat wat die Grondhervormingskomitee maar gerus kon hoor.

Die span sluit dan af met hul tradisionele blik op die toekoms. Vandeesweek is die fokus op die diep problematiese posisie waarin sowel die DA as die ANC hul bevind. Beide het belowe om binnekort nuwe beleidsdokumente te publiseer – en beide het uitsonderlike uitdagings. Die DA beloof, op sy beurt, ’n posisie aangaande onteiening en SEB wat wit én swart aanneembaar sal vind. Die ANC, uit monde van minister Nhlanla Nene, belowe om met sy beleidsrigting 2 tot 3 persent BBP-groei te bewerkstellig. Beide is, om die minste te sê, onwaarskynlik

Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jerry ·

Ek is bekommerd daaroor dat Afri-Forum se plaas en gemeenskapsbeveiligingsplanne nie genoegsame kundige insette bevat nie of dat die uitvoerders nie opgewasse is vir die taak nie omrede plaasmoorde steeds plaasvind. Privaatveiligheid se verkeerde optredes soos die man wat in die rug geskiet is en die swartman wat deur die twee wit veiligheidbeamptes gearresteer was en rondgesleep was dui op verkeerde tipe opleiding of invloed of sentiment of wat ookal! Wat sien julle as die oorsaak van die insidente wat ontvou agv Afri-Forum invloed, betrokkenheid of nie, ens. Die doodskis insident wat plaasgevind het en waarvoor twee witmans in die tronk voor opgeeindig het was n bekende Afri-Forum idee gewees voordat daardie insident plaasgevind het. Ek sal graag julle kommentaar hieroor wil hoor en ook of julle dink dat Afri-Forum die Afrikaner jeug dien met die regte leiding of nie, gegewe die insidente en die situasie waarin die witjeug in SA hulself bevind.

korruptes ·

Wel toe hy die kans gehad het om van die onwelkomes en staatskapers en groot pelle van die guptas ontslae te raak en die wat korrup is met sy nuwe kabinet – het hy nie. Waarom nie?
Want hy is kop in een mus met hulle.
Hulle is dalk nog steeds sy Allies?
Ek voel ‘n veer vir hom.

Liberaal ·

Die nuwe liberalisme beteken vryheid van spraak is uit, en rassediskriminasie is in mits jy wit is.

Een ·

Soos altyd ‘n lekker episode! Ek geniet dit aansienlik meer wanneer julle meningsverskille het op die show. Dit luister lekker en is nie so vervelig soos radio waar mense heeltyd saam stem nie. Maar bygesê julle drie is besonders ordentlik met mekaar. Doen so voort Podlitiek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.