Podlitiek: Rasklag, Olimpiese sportdrag en vertraagde stemdag

Opgestel deur die Podlitiek-span

Span Suid-Afrika spog met vellies van Veldskoen Shoes (Foto: TeamSA2020/Twitter)

Soos die ys op Suid-Afrika se baard begin ontvries en verwarmers vir die eerste keer in weke nie teen maksimum kapasiteit aangewend word nie, kom Podlitiek oudergewoonte na die getroue Maroela Media-luisteraar om die gemoed en die temperatuur onder die kraag ook na bowe te laat kruie.

In dié week se episode gesels Paul Maritz en Ernst van Zyl oor drie nuusgebeure wat hierdie week hul aandag getrek het, spesifiek die reuserasklag wat Solidariteit gister by die VN se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie ingedien het, die treurmare van die EFF se kant jeens die Olimpiese span se kleredrag, en die amptelike kennisgewing dat die verkiesing uitgestel is.

Paul se onderrok hang lekker ver uit tydens vandag se eerste storie, soos hy vertel oor die massiewe rasklag wat Solidariteit by die VN ingedien het. Na jare se vasbyt en stelselmatig elke hekkie oorkom, is hierdie klag gister ingedien. Wat Podlitiek stom slaan is hoe toondoof die ANC-regering vir die internasionale klimaat geword het. Die tipe banale rasseklassifikasie wat daar tans in Suid-Afrika toegepas word, hoort nie in die 21ste eeu nie, maar soos ʼn oester aan ʼn rots klou die kaders vas aan hul denke.

Die tweede storie gaan oor vellies, oulike, kleurvolle en plaaslik vervaardigde vellies, en hoe dit die EFF “pyn” toegereken het. Die EFF se Mbuyiseni Ndlozi vermeld op Twitter dat die Suid-Afrikaanse Olimpiese span te wit is, en Floyd Shivambu beskou homself as emosioneel gekwes deur die atlete se dra van vellies. Nou wonder die Podlitiek-span of Floyd sou verkies dat almal, soos hy, met R30 000 se Prada-skoene moes pronk?

Die derde storie handel oor die verkiesing wat uitgestel is, maar in stede daarvan wil die Podlitiek-span hierdie paragraaf eerder aan Maroela Media op sy tiende verjaarsdag opdra! Dankie dat Podlitiek al drie jaar lank al op Maroela Media ʼn tuiste mag maak!

Al hierdie stories en meer in hierdie week se Podlitiek.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Buks ·

Ek dink mense moet volstrek weier om die koerant te koop as daar enigsins iets oor EFF op die voorblad staan van hulle lafhartige windmakery.

Boeretroos ·

Moes sommer ook boerboel se klere reeks ook aangehad het , Dan was dit vir jou darem swierig gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.