Podlitiek: SAL-sakeredding flop, dr. Gray opsy geskop en Covid-litigasie hoop op

Opgestel deur die Podlitiek-span

Dr. Glenda Gray. Foto: SAMRC

Die verantwoordelike mens neem meer in as net die nuus. Hulle neem ook menings en ontledings oor die nuus in, altans, so glo Hermann Pretorius, Daniël Eloff, en Paul Maritz, die drie deelnemers aan dié week se Podlitiek-episode.

In ’n kort en kragtige episode kyk hulle na drie stories: Hoe SAL se sakereddingproses een kolossale mislukking blyk te wees, hoe gesaghebbende kenners se menings rakende Covid-19 opsy geskuif word, en hoe litigasie rakende die pandemie in Suid-Afrika besig is om op te hoop.

Ten eerste word die gesnoeide, maar skynbaar nog nie geknipte vlerkies nie, van SAL ondersoek. Hierdie lugredery, wat ’n nuwe definisie vir die uitdrukking “finansieel in die rooi” gegee het, wil skynbaar net nie doodgaan nie. Met vakbonde wat nou al salariskortings voorstel, en meeste vlugte wat steeds gekanselleer bly, lyk dit asof SAL sukkel. Nietemin, so meen die Podlitiek-paneel, ’n verlies is dikwels nie genoeg om ’n kommunis te keer nie.

Volgende word die saak van dr. Gray onder die loep geneem. Hier word nie na een of ander televisiereeks verwys nie, maar na realiteit. Dr. Glenda Gray adviseer die regering rakende Covid-19, maar nadat sy beweer het dat verdere inperkings nie die voordele inhou wat die regering aanvoer nie, is sy en haar mening opsy geskuif. Hoeveel waarde word daar dan werklik aan kenners se mening in hierdie tyd geheg?

Laastens word vlugtig gekyk na al die litigasie wat tans op die hof se tafel is. Met enige redelike mens wat tans nie anders kan as om die regering voor die hof te daag nie, was howe lanklaas so besig. Nie net liefdadigheidsorganisasies en burgerregteorganisasies nie, maar ook onderwysinstansies word nou met weinig ander keuse gelaat as om hulle na die hof te wend. ’n Analise van hierdie toedrag van sake word voorsien.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilhelm ·

‘n Oplossing vir SAL? Betaal die werkers om absoluut niks te doen nie. Omdat niks gedoen word kan die bestuur afgedank word. Die salaris-rekening sal dan ongeveer 1 biljoen rand beloop. Siedaar; ‘n besparing van 4 biljoen rand jaarliks vir die belastingbetalers. (SAL is R5b jaarliks in die rooi.)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.