Podlitiek: Skaapslag op Cliftonstrand, so het Zille-seun in die sop beland en die regeringshand vat my land

clifton-strand-kaapstad

Clifton se strande in Kaapstad. Foto: SkyPixels/Commons.wikimedia.org

Opgestel deur die Podlitiek-span

Ná afloop van ’n nodige wegbrekie van nasionale nuus, is die Podlitiek-span terug op hul poste – met ’n paar appeltjies te skil met die Suid-Afrikaanse regering. Hierdie week sing die span nuwe liedjies, “Skaapslag op Cliftonstrand” en “Onwettige wiskundeklasse deur Helen Zille se seun”, en waag uiteindelik weer ’n opinie oor grondhervorming en die jongste verwikkelinge ten opsigte van hierdie netelige kwessie.

Die span spring sommer reguit weg en bespreek die onlangse skaapslagting wat op 28 Desember 2018 op Clifton se vierde strand plaasgevind het. ’n Private Sekuriteitsmaatskappy, PPA, het na bewering op 23 Desember 2018 om 20:00 die aand aan strandgangers gevra om die strand te verlaat. Die Black People National Crisis Committee het hierdie verwydering aan rassisme toegeskryf – en toe besluit om hul misnoeë uit te spreek deur ’n lewende skaap op die strand te slag. Die Podlitiek-paneel bespreek hierdie gebeurtenis in die lig van die komende verkiesing, en die impak wat hierdie optrede op Suid-Afrika se besoekersgetalle mag hê in die toekoms.

Volgende kyk die paneel na die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se verslag wat aandui dat Helen Zille se seun, Paul Maree, in 2014 onreëlmatig opgetree het deur tabletrekenaars te leen om vir matriekleerlinge ekstra wiskundeklasse aan te bied. Daar is eenstemmigheid dat die openbare beskermer absurd optree in hierdie geval – is dit werklik so verkeerd dat ’n wiskundeonderwyser ekstra wiskundeklasse aanbied, met behulp van staatsbates? Ongelukkig steek die OB se onderrok duidelik uit – vyande van die ANC is duidelik in haar visier – so meen die Podlitiek-paneel.

Daniel du Plessis lei ’n derde gedagte in: grond. Op 21 Desember 2018 is die jongste weergawe van die onteieningswet as ’n konsepwet ingedien en deur die departement van openbare werke gepubliseer. Die problematiese aspekte van hierdie wet is dat dit praktiese uitwerking probeer gee aan sommige van die meer problematiese bepalings van artikel 25(3) van die Grondwet. Die paneel herinner luisteraars aan die rampspoedige gevolge van onteiening sonder vergoeding.

Soos dit Podlitiek se gebruik geword het, sluit ons die episode af met ’n paar positiewe nuusgebeure van die afgelope week. Die eerste hiervan is die positiewe, of ten minste skynbaar positiewe matriekuitslae wat onlangs aangekondig is. Het die verkiesing op enige manier ’n impak op slaagsyfers? ’n Ware brokkie goeie nuus is Springbokkaptein Siya Kolisi se opmerkings oor kwotastelsels, wat die media hierdie week aan die gons het. Laastens maak Podlitiek ’n opspraakwekkende aankondiging… luister gerus!

  • Wil jy weet na watter strande toe jy moet gaan om gratis skaaptjoppies te kry? Dan is Podlitiek net die program vir jou! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Max ·

Hierdie dinge wat aangaan in die eens mooie land walg my. Dis nou nie meer ñ voorreg nie maar ñ straf blanke hier te probeer oorleef. Ook as pensioenaris. Spartel op die rand vd afgrond om te oorleef. Ek het gesê. ☹

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.