Opgestel deur die Podlitiek-span
Die Podlitiek-span bespreek en ontleed oudergewoonte die nuus en wat daar agter steek.
Die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens sal tot gevolg hê dat geen persoon voortaan meer ‘n vuurwapen mag koop/besit vir selfverdediging nie. Dit in ’n land waar moordsyfers deur die dak skiet, en lewens daagliks gespaar word as gevolg van privaat wapenbesit.
Die Podlitiek-span, wat dié week bestaan uit Ernst, Paul en Daniël, pak die bul by die horings, en ontleed die kwessie deeglik. Die gedagte dat ’n duidelik oorweldigde regering probeer om sy mense te ontwapen, spring natuurlik eerste na vore, maar die magsbeheptheid van die ANC-regering strek, volgens hul gesprek, heelwat dieper en verder.
’n Tweede storie wat dié week bespreek word, is die jongste korrupsieskandaal, hierdie keer met minister Zweli Mkhize in die middelpunt daarvan. Mkhize se gesondheidsdepartement het kontrakte vir sosiale media ter waarde van miljoene rande aan twee van sy voormalige werknemers gegee, en die take wat hulle moes verrig, kom voor deel te gewees het van die departement se amptelike dienste. Die Podlitiek-span is nie verbaas nie, maar bekla weer eens die lot van ’n land in die greep van kleptokrasie.
Al hierdie stories en meer in hierdie week se Podlitiek.
Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.
- Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).