Podlitiek: Nog ’n DA-grote gaan, SA ekonomie platgeslaan

James Selfe. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie vol episode van Podlitiek pak die span die afgelope week se groot nuusgebeure aan. Ernst, Paul en Daniël bespreek die skeiding tussen Kerk en Staat, Suid-Afrika se rampspoedige ekonomiese beleide (en die gevolge daarvan), asook James Selfe wat as voorsitter van die federale raad van die Demokratiese Alliansie bedank het. Hulle kyk ook indringend na verskeie internasionale kwessies wat hierdie week se nuussiklus gedomineer het.

Ná afloop van Gareth van Onselen, ’n invloedryke Suid-Afrikaanse meningvormer verbonde aan die Instituut vir Rasseverhoudings, se uitlating oor die teenwoordigheid van geloof by openbare sake, sowel as die Openbare Beskermer se uitspraak dat sy glo sy is deur God in haar posisie geplaas, besluit Podlitiek om hul menings te lug. Die bespreking fokus op die kernverskil tussen ’n ateïstiese staat en ’n sekulêre staat, en hoe nie een daarvan ’n teokratiese staat is nie. Luister gerus na hierdie episode om dié drie benaderings van mekaar te kan onderskei.

Volgende word daar na die Suid-Afrikaanse ekonomie oorgegaan. Paul lei hierdie insetsel in met skokstatistieke – nie net het die ekonomie met 3,2% gekrimp in die eerste kwartaal nie, die rand het sy laagste punt van 2019 teenoor die dollar verlede week getref. Slegte dinge gebeur in drieë, en Ace Magashule se uitsprake oor die ANC se drome vir die Reserwebank kan gesien word as die derde skoot wat Suid-Afrika se ekonomie die afgelope week moes trotseer. Weer eens word dit aan Podlitiek duidelik dat sentralistiese beleide en ’n opgeblase regering nie die antwoord vir Suid-Afrika is nie.

Derdens word daar gekyk na die Demokratiese Alliansie. Hierdie beleërde party vind homself weer aan die ontvangkant van ’n bedankingsbrief, in hierdie geval dié van James Selfe, voorsitter van hul federale raad van die afgelope 19 jaar. Waarom is prominente lede van die DA besig om die pad te vat, en wat kan ons uit die DA se benadering tot die onlangse verlede aangaande hul toekoms sê? Ernst maak ’n deeglike ontleding van waar die DA die kluts kwytgeraak het.

Op die internasionale front was dit ’n besige week, maar die Podlitiek-span kies om in te zoem op YouTube se besluit om die monitering van Steven Crowder, konserwatiewe Amerikaanse komediant, se kanaal op te skort. Weer eens is die internasionale ongeduldigheid vir konserwatiewe standpunte duidelik. Dubbelstandaarde vier hooggety!

Weet meer oor die wêreld om jou deur in te skakel vir hierdie spitsvondige, raakvatgesprek oor alles en nog wat in die Suid-Afrikaanse en internasionale politiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

… Selfe se gesig toon die gemiddelde denkende Suid-Afrikaner se moedeloosheid en geloof in die kanse van ons sinkende skip. Die ANC wil glo dat die ekonomie onder sy bestuur vooruitgeboer het en nou net so ‘n klein insinkinkie beleef… Oooh, en mense ons moet net dit en dat, en dan loop alles weer klopdisselboom. Nee. Ons beweeg na ‘n Afrika-/sosialistiese-regeringstyl na gelang die eerstewèreldkundiges afgelè word en wise guys en hul kaders die beursies in hul kloue kry…

willem Botha ·

Die DA se tyd het aangebreek hulle sal swakker en swakker word todat hulle soos die NP verdwyn,die VF+gaan hulle roer in die ander provinsies want n huidige benaadeelde persoon wat weer vir hulle stem kan net so wel anc stem as hy homself en sy familie dan wil begrawe en die good party gaan hulle uit die water skiet in die weskaap .Die DA het te arrogant geword en hulle glo die kiesers sal aanhou vir hulle stem ongeag of hulle daardie kiesers se lewens verbeter of ten minste opstaan en dit probeer verbeter.

Riaan le Roux ·

Sjoe, ouens. Dis baie vreemd om te hoor hoe andersins rasionele denkers sielkundig laer trek wanneer daar enigiets negatiefs oor hul geloof geuiter word. Ek stem saam dat dit nie ‘n groot kwessie is nie, en dat GvO onprofessioneel, taktloos en onnodig kras was. Maar kan julle opreg getuig dat julle gemaklik daarmee sou wees as die hoofregter ‘n Moslem was en ‘n Moslemgebed begin sing het? Ek twyfel. Vir presies dieselfde rede is dit ook onvanpas vir hom om parlementslede in gebed te lei. Dit laat mens sy onpartydigheid in sy professionele kapasiteit bevraagteken.

Rakende YouTube en hul “demonitisation” van sekere “slegte videos”: Die feit dat YouTube et al sensuur toepas is lankal nie meer hulle “skuld” nie, maar ons s’n. As jy nie hou van sensuur nie, skuif na ‘n ander platform toe wat dit nie op jou toepas nie. YouTube is ‘n privaat maatskappy wat hul eie reels vir hul platform kan maak. So verkeerd en irrasioneel soos wat dit is. Julle is tog voorstaanders van die vrye mark, so gebruik jul verbruikerskeuse en skuif! Dis al hoe hulle hul houvas oor ons denke gaan verloor.

Daniël ·

Beste Riaan,

Ons waardeer die terugvoer en bereidwilligheid om beide die onderwerpe te bespreek.

Wat die skeiding tussen staat en geloof betref kan ek minstens my opinie hier duidelik maak. Ek glo kerk en staat behoort stewig geskei te wees maar ek glo nie om in die wetgewer te bid is enigsins anders as ‘n sportster wat tydens’ n webstryd bid nie.

Verder sal ek 100% gemaklik wees indien ‘n amptenaar die geloof van sy of haar keuse uitoefen. Dit is immers wat verdraagsaamheid behels.

Oor YouTube stem ek heelhartig saam. Dis’ n privaat maatskappy wat dit vry staan om inhoud beheer toe te pas so inkonsekwent soos hulle lus het net soos dit ons vry staan om daai gebruik van hul diskresie te kritiseer.

Laastens wil ek net noem dat ek waardeer dat jy die tyd geneem het om kommentaar te lewer. Ons kort meer bona fide eerlike gesprekvoering.

Dankie vir die saam luister.

Anton ·

Ek het al verskeie keer Maroela nuus gelees. Ek hou van julle vinnige komentaar en boonop in Afrikaans.. Dankie

Daniël ·

Baie dankie dat jy saam luister Anton! Ons kan dit nie sonder julle die luisteraars doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.