Opgestel deur die Podlitiek-span
In die virtuele ateljee vir die jongste episode van Podlitiek hou Hermann Pretorius en Daniël Eloff die fort vir die Podlitiek-span.
Hermann en Daniël ontnonsens die afgelope week se nuusgebeure en skop die episode af deur te kyk na die jongste verwikkelinge in die spannende sage tussen die taxibedryf en die minister van vervoer, Fikile Mbalula. Die taxibedryf het sy stem die afgelope week dik gemaak teen die regering se voorstel dat taxi’s slegs teen beperkte kapasiteit funksioneer.
Die gesprek draai dan na die minister van finansies, Tito Mboweni, se noodbegroting, wat onder meer verskeie regeringsprogramme insluit wat poog om die ekonomie ʼn hupstoot te gee. Mboweni het in sy toespraak erken dat Suid-Afrika met ʼn enorme skuldprobleem sit, maar ondanks hierdie welkome erkenning beoog hy geen pogings om staatsuitgawes te besnoei om die skuldprobleem aan te pak nie.
Laastens kyk Daniël en Hermann na die Demokratiese Alliansie se versoek aan pres. Cyril Ramaphosa om plaasmoorde tot haatmisdaad te klassifiseer en wat hierdie skuif deur die party beteken. Hoewel dit dalk as ʼn politieke foefie gesien kan word, moet daar minstens erkenning gegee word dat die party die standpunt teen plaasmoorde inneem.
Podlitiek het ook vir kollega Paul Maritz ʼn hartlike gelukwensing nadat hy in die huwelik getree het en gevolglik met wittebrood is.
Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.
Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
It will be a cold day in hell before Ramaphosa will acknowledge the farm murders as being a hate crime…