Podlitiek: Twitter-parade en nog skade…

vuurwapen-rewolwer-koeels-wapen

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Opgestel deur die Podlitiek-span

Soos wat faksionalisme binne in die ANC woed en elke groepie sy plekkie ná afloop van die nasionale verkiesing probeer vind, bring Podlitiek ’n vars perspektief op die jongste plaaslike en internasionale politieke sake. Hierdie week kyk Daniël, Ernst en Paul oudergewoonte na die stories wat hulle oog gevang het, en pak dit vir die luisteraar uit.

In die eerste plek kom Zindzi Mandela, dogter van oudpresident Nelson Mandela en sy tweede vrou, Winnie Madikizela-Mandela, as besprekingspunt na vore. Sy is tans die ambassadeur in Denemarke, en het, ondanks haar hoë diplomatiese posisie, uitsprake gemaak oor wit mense wat, volgens haar Twitter-rekening, grond gesteel het en verkragternageslagte van Jan van Riebeeck is. Die departement vir internasionale samewerking voer aan dat daar nie sekerheid kan wees daaroor dat sy self hierdie twiets geplaas het nie, maar Podlitiek wonder waarom ons dan niks van haar self gehoor het nie.

Tweedens, ’n kommerwekkende nuwe stuk wetgewing. Die regering is in die proses om ’n wet daar te stel wat die tipe wapens wat sekuriteitsmaatskappye mag aanwend, aan te pas. Op die oog af lyk dit dalk na ’n tegniese kwessie, maar die belese Podlitiek-luisteraar sal weet dat die beperking van wapens wat mense mag dra of aanwend die eerste stap na tirannie in verskeie lande was. ’n Staat wat jou vermoë om jouself te verdedig wil inperk, is gewoonlik nie op ’n gesonde pad nie, so meen die span.

Die derde plaaslike storie is dié van Ace Magashule, wat ’n hele klomp voormalige kaders, wat in onguns beland het ná afloop van die nasionale verkiesing, probeer aanstel het as voorsitters van parlementêre komitees. Dit kom voor asof die president ’n stokkie hiervoor kon steek, maar die blote poging toon weer eens die faksionalisme en kaderontplooiing wat posgevat het en nie die regerende party wil los nie.

Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riaan le Roux ·

Rakende die wapensituasie: waar staan julle op burgerlike ongehoorsaamheid (weiering om die wette te erken of gehoorsaam) ten opsigte van sulke wette? Dit het skynbaar “gewerk” met die e-tol regulasies, maar dis natuurlik aansienlik anders wanneer wapens ter sake is. ‘n Weiering om ontwapening te aanvaar mag dalk as aggressief deur die regering beskou word, en lei tot aggressiewe teen-aksie. Maar dalk is dit waar ons nou is. Dalk is dit “beter” vir so iets om vroeër eerder as later te gebeur.

Rakende die gesprek met die Thabo Mbeki-stiging: was dit opgeneem? Indien wel, waar kan ons dit gaan kyk? Dit klink asof dit baie insiggewend en interessant was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.