Podlitiek val met die stoel in die huis …

Skermgreep uit die video van die onlangse oproerigheid in Houtbaai.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Podlitiek kondig met trots aan dat Ernst van Zyl by Podlitiek aansluit as voltydse aanbieder. In die eerste episode met Van Zyl agter die mikrofoon, kyk die span na die onlangse gevegte tussen die EFF, BLF en die Land Party by ’n Houtbaai-verkiesingsdebat, Alexandra wat vingers in alle rigtings oor swak dienslewering wys en, laastens, word daar in diepte gekyk na die ANC voor die verkiesing van 8 Mei 2019.

Die span val sommer met die deur in die huis (of is dit nou met die stoel?) en gesels oor die onlangse oproerigheid in Houtbaai, toe ’n groep EFF-ondersteuners slaags geraak het met lede van die BLF en ’n ander party, die Land Party. Mens wonder of dit ons werklik behoort te verbaas dat linksleunende partye daartoe neig om chaos te veroorsaak, as hulle hierdie tipe optogte dikwels as vordering beskou…

Vir sy heel eerste Podlitiek-onderwerp kies Ernst om die onlangse diensleweringsoptogte in Alexandra in die noorde van Johannesburg te bespreek. Is hierdie optogte waarlik ’n opregte gemeenskaplike klag oor swak dienslewering, of word die gemeenskap gemobiliseer met die oog op 8 Mei se verkiesing? Burgemeester Herman Mashaba, van die DA, voel dat die ANC besig is om munt te slaan uit die onrus, en die span bespreek die situasie, en hoe dit tans op munisipale, provinsiale, en nasionale vlak hanteer word.

In plaas van ’n derde onderwerp, begin Podlitiek hierdie week met ’n insetsel wat hulle noem “Politieke X-strale”. Tydens hierdie insetsel, wat ’n weeklikse verskyning tot en met die nasionale verkiesing sal wees, ondersoek hulle ’n spesifieke party – alles van die party se geskiedenis tot onlangse kontroversiële gebeure, sowel as ’n Podlitiek-voorspelling vir hul prestasie. Luister en dink saam!

  • Met die nasionale verkiesing om die draai kan jy nie bekostig om agter te raak met politieke nuus en gebeure nie – luister Podlitiek en bly op hoogte en ingelig! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

…. en toe zyl die plastiekstoele deur die lug… Ons hoop die nuwe man is nie ernst-ig beseer nie… Dit gaan maar woes op diè planeet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.