Podlitiek: Vrede, vlugte en burgerlike teenwigte

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die ANC-afvaardiging het glo ‘n saamrygeleentheid saam met die minister gekry. (Foto: Tawanda Mudimu/The Herald)

Die Podlitiek-span is terug in die virtuele ateljee, en oorweeg hierdie week wat aan die gang is, waaronder die terugkeer na die nuwe normaal – hiermee word nie ʼn normaal van maskers en temperatuurgeweertjies bedoel nie, maar eerder die normaal van die ANC wat ons geld wil steel, die ANC wat ons geld in werklikheid steel, en buitelandse beleidstellings.

Die episode begin met ʼn ontleding van voorgeskrewe bates en die uitwerking wat dit dreig om op die Suid-Afrikaanse ekonomie te hê. Hermann het onlangs ʼn briefwisseling met ʼn toonaangewende sakeleier rakende voorgeskrewe bates gevoer, en hy lei ʼn segment in oor die gevaar van voorgeskrewe bates, maar bowenal, die gevaar van groot maatskappye wat nie hul kant bring in die stryd teen finansiële despotisme nie.

ʼn Volgende storie handel oor die ANC wat nasionale fondse aangewend het vir sy skynbare pretrit na Zimbabwe, om te gaan ondersoek instel in waarmee die beleërde buurman na ons noorde besig is. Die Podlitiek-span meen dat die gemiddelde ANC-lid nie meer weet wat die verskil tussen staatsgeld en partygeld is nie, en dit is maar net nog ʼn lig wat geskyn kan word op die kommerwekkende tendens van ʼn eenpartymonster waarteen die Suid-Afrikaner daagliks ʼn stryd én ʼn bestaan moet voer.

Derdens loer die Podlitiek-span na ʼn internasionale storie, die Abraham-verdrag wat onderteken is tussen Israel en Bahrein en Koeweit. Hierdie verdrag beloof vrede tussen die lande, en is nog ʼn stap in die rigting van bestendiging vir Israel, wat homself vir baie lank baie alleen in die Midde-Ooste moes bevind wat vriende betref. Beteken hierdie verdrag vriendskap? Podlitiek is nie so seker nie, maar stel nietemin ondersoek in.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hy maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.