Podlitiek: Wapens agtergelaat en die ANC is vir AfriForum kwaad

vuurwapen-rewolwer-koeels-wapen

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Opgestel deur die Podlitiek-span

In vandeesweek se episode pak die Podlitiek-span oudergewoonte talle belaglikhede in die nuus aan – maar word darem verkwik deur ’n positiewe verwikkeling of twee.

Vandeesweek se bespreking begin deur ou koeie wat uit die sloot gegrawe is, weer ’n bietjie af te stof. Op Maandag 23 Oktober is die vervolging van Joao Rodrigues vir die moord op Ahmed Timol uitgestel na volgende jaar. Timol, ’n anti-apartheidstryd, is dood nadat die apartheidsera se veiligheidspolisie hom uit die weg geruim het – gebeure wat Rodrigues ná die tyd help toesmeer het. Die span bespreek dié gebeure met groot omsigtigheid – hierdie saak is immers ’n toets vir hoe soortgelyke kwessies in die toekoms hanteer sal word. Hulle is dit eens dat geregtigheid, binne die perke van legaliteit, behoort te geskied. Paul is wel nie seker of hierdie beginsel deur die bank toegepas sal word nie en is bekommerd dat daar baie stryders is wat nie soortgelyke behandeling sal ontvang nie.

Op die onderwerp van geweld en die staat, neem Daniël Eloff die gesprek na die moontlike wysiging van Suid-Afrika se vuurwapenwetgewing. Hoewel dit duidelik is dat die sogenaamde wetsvoorstel nog nie amptelik is nie – en, trouens, nog nie eens aan die kabinet voorgelê is nie – is dit baie duidelik dat daar kommerwekkende gesprekke in die regerende party aan die gang is. Hierdie voorstel, onder meer, verwyder selfverdediging as ’n rede om ’n vuurwapen te besit – wat, uiteraard, een van die mees belangrike gebruike van ’n vuurwapen is. Die span gebruik sommer die geleentheid om die rol van vuurwapens in Suid-Afrika (en ook internasionaal) te bespreek – en wys uit dat talle wapens in Suid-Afrika in elk geval onwettig besit word.

Paul spreek sy misnoeë uit oor ’n onlangse persverklaring wat deur die ANC uitgereik is. In hierdie verklaring, wat grotendeels hamer op die regte van plaaswerkers, word daar slegs sydelings verwys na plaasaanvalle – en dit ondanks die feit dat die verklaring juis aangebied is as een wat handel oor sodanige misdade. Dit is vir Paul bitter teleurstellend dat die regerende party so ’n uiterse gebrek aan empatie aan die dag sou lê – net omdat hul boere nie juis binne die ANC se politieke kraal val nie, beteken nie dat hulle nie ook geregtig op beskerming is nie.

Ter afsluiting, kyk Podlitiek na enkele positiewe punte van die afgelope week se nuus. Daniel du Plessis is bemoedig deur vordering in die Noord- en Suid-Koreaanse vredesproses. Ná ’n ooreenkoms tussen hierdie lande en die VN, is daar nou onderneem om alle wapens van die grens te verwyder. Paul is heel tevrede met die Kruger Nasionale Park se gebruik van ’n nuwe, hoogs gevorderde vliegtuig wat aangewend sal word om renosterstroping te help voorkom. Daniël Eloff spreek sy gelukwense uit aan ’n nuwe program in die Noord-Kaap wat kinders bystaan met Gr 4-6 wiskunde, befonds deur die privaat sektor.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.