Podlitiek: Wat Andilê daar agter BLF? En daar is ’n Obama op ons stoep

pres-barack-obama

Barack Obama die voormalige president van die VSA. Foto: Verskaf.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie episode gesels Paul Maritz, Hermann Pretorius en Daniël Eloff oudergewoonte oor ’n paar opspraakwekkende nuusflitse van die afgelope week. Hierdie week val hul vergrootglase op Black First Land First, die rasgedrewe drukgroep wat onlangs weer opspraak gemaak het, Suid-Afrika se voorgenome terugkeer na die Internasionale Strafhof, en die voormalige Amerikaanse president Barack Obama se onlangse besoek aan Suid-Afrika. Soos altyd kan luisteraars kraakvars en bekkige kommentaar verwag!

Sedert hul ontstaan in Oktober 2015 het Black First Land First hulself openlik as ’n linkse, rasgebaseerde, en radikale drukgroep ten gunste van grondonteiening sonder vergoeding sowel as die belang van Swart Suid-Afrikaners bo dié van ander landsburgers bekendgestel. Verlede week het hulle weer nuus gemaak ná ’n konfrontasie van Kallie Kriel, hoof van AfriForum. Die paneel bespreek hierdie groep se werklike impak, en wonder stilletjies waarom hierdie groep altyd pro die Zuma-kamp is en niks oor die Gupta-familie te sê het nie…

Die tweede saak onder die Podlitiek-span se mikroskoop is Suid-Afrika se voorgenome terugkeer na die Internasionale Strafhof. Wat is die rol van organisasies wat oor nasionaliteite heen strek, watter beeld straal dit uit om jouself van internasionale sake te onttrek, en watter mag het hierdie struktuur nou eintlik? Hermann bring hierdie vrae, en verskeie ander, na die tafel.

Daniël rig dan die gesprek na president Barack Obama, voormalige leier van die VSA, se besoek aan onse grense in die afgelope week. Die paneel bespreek die nalatenskap van president Obama, beide die populêre opinie van die basketbalspelende silwertong van Amerikaanse politiek, sowel as die werklike en feitlike, gebaseer op wat die syfers vir ons sê oor die vorige leier van die VSA.

Oudergewoonte kyk die paneel so bietjie in deur die toekomsvenster na nuus wat hulle in die volgende week gaan dophou. Daniël sê sy visier is op VBS-bank en hul (na bewering) R1,5 miljard rand se bedrog. Hermann hou sake ondergrond so bietjie dop, ná Maandag se skokkende nuus dat die sterftesyfer in myne in Suid-Afrika reeds op 54 vir dié jaar trek. En Paul vra wat SANZAAR in gedagte het vir rugby oor die grense van die Suidelike halfrond se vier groot rugbymagte.

Wees ingelig, hê ’n opinie, en luister Podlitiek!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wessel ·

Obama, per Beeld en ek haal aan:

Hy glo nie die vasteland het ’n “Verenigde State van Afrika” nodig om sy probleme op te los nie, het oudpres. Barack Obama van die VSA op 18 Julie in Johannesburg gesê.

Obama, wat die vorige dag die Nelson Mandela-gedenklesing in Johannesburg gelewer het, het op 18Julie ’n gespreksbyeenkoms van die Obamastigting saam met 200 jong leiers uit 44 Afrikalande bygewoon.

“Die mense in die onderskeie lande in Afrika moet eers binne hul eie landsgrense met mekaar klaarkom voordat hulle kan streef na Pan-Afrika-eenheid,” het Obama in antwoord op ’n vraag gesê.

Hy besef kolonialisme het ’n baie negatiewe uitwerking op die vasteland gehad, maar daar moet ’n tyd kom dat Afrika moet sê “g’n verskonings meer nie”.

Obama het gesê in 1963, toe Kenia onafhanklik geword het, was dié land en Suid-Korea se bruto binnelandse produk (BBP) dieselfde.

“Nou is Suid-Korea s’n tien tot 15 keer groter – en Suid-Korea het ook baie probleme.”

Pierre ·

Ramaphosa dryf mos vir ‘n vryhandelsgebied in Afrika, soortgelyk aan die Europese Unie. Ooreenkomste is al geteken. My mening was nog altyd dat Afrika is te divers en het te veel probleme van sy eie wat aandag moet geniet. Ons het nou al vreemdelinge haat in die land, as gevolg van dat daar nie werk is nie. Die ekonomie kom nie aan die gang nie. Dit help nie ‘n mens jaag mooi woorde na net omdat dit in ander vastelande werk nie. Jy moet jou eie en die streek se omstandighede in ag neem, hul behoeftes. Gaats en ons werkloosheidsyfer is oor die 27%. Ek wonder wat Ramaphosa van Obama se antwoord aan die jong leiers, soos hier bo, sê sal hê.

Elizabeth ·

Moet ons nou luister na mens e wat nonens praat. Daar was nie ń nuwe oorlog begin deur USA onder Obama se leierskap nie maar Putin het gestreef om WWW III te begin.

Die volgende feit is Obama is glad nie verantwoordelik vir enigeiemand se sielkundige gedrag nie . SA HIV/AIDS se getal is = aan enige klein land se bevolking. Kan die Suid-Afrikaners die verander?

Was walg toepaslik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.