Podlitiek: Wat het Kersfees te doen met die Suid-Afrikaanse gemeenskap?

kersboom-kersliggies-kersboom

Foto: @mougrapher/Unsplash.com

Opgestel deur die Podlitiek-span

Wat het Kersfees te doen met die Suid-Afrikaanse gemeenskap, ons regstelsel en ons geskiedenis? Luister en lees gerus om uit te vind!

Hierdie spesiale uitgawe van Podlitiek is nie, soos altyd, te erg besorg oor die stampe en stote van die Suid-Afrikaanse politiek nie – juis omdat ʼn ou blaaskansie oor Kersfees tog net gepas is. In ʼn insiggewende, dog persoonlike, episode besluit die span om sommer die Kersgety te gebruik om die sluier te lig oor die basiese waardes van ons samelewing – juis omdat daar soveel uit die Christelik-Joodse gelooftradisie daarvoor ontleen is.

Sommer heel aan die begin vertel Daniel du Plessis en Paul Maritz watter effek die Christenskap op die geskiedenis gehad het. Hoewel Daniel begin by van die heel eerste menslike samelewings – en hoe ʼn politeïstiese samelewing verskil van een wat monoteïsme aanhang – draai die gesprek vinnig na die Europese en Suid-Afrikaanse geskiedenis wat aanleiding gegee het tot die situasie waarin ons vandag is. Op meer en minder opsigtelike maniere was die Christelike wêreldbeskouing aan die kern aan hierdie verwikkelinge – maar die eintlike interessantheid is hoe dit steeds vandag ʼn onsigbare invloed het.

Daniël Eloff en Daniel du Plessis draai dan die gesprek na die reg toe – een van die kernmaniere waarop hierdie invloed nog tot vandag uitgeoefen word. Dit is belangrik, voer hulle aan, om in gedagte te hou dat baie aspekte van ons reg nie noodwendig ʼn gegewe is nie – en hulle gebruik die voor-Christelike Romeinse reg om hierdie punt te illustreer. Die Christelik-Joodse wêreldbeskouing het nog, tot vandag, ʼn tasbare invloed ook internasionaal, selfs in lande en streke wat nog nooit aan hulself as “Christelik” gedink het nie.

Die gesprek draai dan uiteindelik na die praktiese implikasies wat Christelik-Joodse waardes op die aanhangers daarvan se alledaagse lewens het. Wat beteken dit, veral in ʼn land waar konflik en stryd die norm geword het? En hoe gaan ons met ons medemens om, veral wanneer hulle teen ons bevooroordeeld is? Daniël Eloff en Paul Maritz lig die sluier op hierdie (en talle ander) netelige kwessies.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.