Podlitiek: Winde wys polisiemag, SAL weer betrag en ʼn toekoms sonder krag  

Opgestel deur die Podlitiek-span

Premier Alan Winde het die foto op Twitter gedeel.

Alhoewel die laat somerson tussen 13 en 14 uur per dag skyn, is Suid-Afrika al hoe meer in die donker. Daar is fisieke donkerte, maar ook die duistere verwarring waarmee die verskeie nuusmedia ons as gewone burgers deurmekaar maak. In so ʼn tyd is dit juis nodig om te #Ontnonsens, ʼn taak wat die Podlitiek-span besonders ernstig opneem.

Vandeesweek is Ernst, Daniël, en Paul agter die mikrofone, en hulle bespreek heel eerste Alan Winde, DA-premier in die Wes-Kaap, se belofte om ʼn bykomende R1 miljard beskikbaar te stel ten einde beveiliging van gevaarlike gebiede te bewerk. Toe Winde in September verlede jaar hierdie uitsprake begin maak het, sou die meeste Suid-Afrikaners dalk aan sy beloftes getwyfel het, juis omdat politici geneig is om groot beloftes net voor, of net ná verkiesings te maak. Tog het video’s wat wys dat Winde die daad by woord gevoeg het, hierdie week die rondte op sosiale media gedoen. Podlitiek bespreek die idee van sowel toenemende onafhanklikheid van provinsies as veiligheid – juis in kwesbare gebiede.

ʼn Interessante uitspraak deur Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, lei tot Podlitiek se tweede storie. Mantashe het oor die afgelope naweek genoem dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens maar verkoop moet word, siende dat dit ʼn elitistiese bate is wat nie alle Suid-Afrikaners dien nie. Sy uitspraak moet nie as een of ander konserwatiewe wending beskou word nie, so meen Podlitiek, maar eerder as ʼn subtiele erkenning dat die huidige regering ernstig misluk in sy pogings om Suid-Afrika te regeer.  Weerstand binne die drieparty-alliansie is ook ʼn interessante tendens om dop te hou.

Vir hul derde plaaslike storie kyk die paneel na Cosatu se uitspraak dat nasionale pensioenfondse aangewend moet word om Eskom se skuld te delg. Podlitiek is dit eens dat hierdie tipe besluit onkundig en gevaarlik is, en ʼn tendens sal skep wat in die toekoms tot groot konsternasie kan lei. As ʼn gemeenskap die oudste mense in sy land begin kwesbaar maak ten einde sy eie swak besluite te korrigeer, dan speel jy kniediep in gevaarwaters!

In hul internasionale segment loer die paneel na Donald Trump se verhoor in die senaat van die VSA, met spesifieke verwysing na Mitt Romney se stem, wat teen Trump getel het.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.