Podlitiek: Zille se twiet en Huawei ‘tot niet’

helen-zille-mmusi-maimane

Helen Zille en Mmusi Maimane van die DA tydens die mediakonferensie in 2017. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Opgestel deur die Podlitiek-span

In vandag se episode kyk Daniël Eloff, Ernst van Zyl en Paul Maritz na die nuutste nuusgebeure in die Suid-Afrikaanse politieke sfeer.

Hoe kan dit dan nou anders as dat die span eerste na Hellen Zille se opmerkings oor swartbevoorregting of #BlackPrivilege kyk? In ’n sosialemediaplasing die pas afgelope naweek het die voormalige leier van die DA dit gestel dat swart bevoorregting sigbaar is omdat staatskapers nie vervolg word nie, ondanks miljarde wat gesteel is. Haar plasing het sosiale media aan die gons gehad, met ondersteuning wat na beide kante toe geval het. Die Podlitiek-span oorweeg die oorhoofse fenomeen van voorreg met ’n gefokusde blik.

Die tweede punt wat ter tafel gelê is, is een van Podlitiek se ongewilde karakters, Panyaza Lesufi, voormalige LUR van onderwys in Gauteng. Alhoewel hy aanvanklik die aanpassings op onderwyswetgewing voorgehou het as maniere om nierassigheid in skole te bewerkstellig, het sy onlangse opmerkings teenoor die Skoleondersteuningsentrum en AfriForum-skole duidelik getoon waaroor dit alles vir hom gaan: Hy soek geen Afrikaans in Gauteng se skole nie, en hy is duidelik daaroor. Die span oorweeg ʼn vergelyking tussen Lesufi en Alfred Milner, ’n man wat soortgelyke ambisies gehad het.

Laastens draai die gesprek by die Vrystaat-melkeryskandaal wat al ’n geruime tyd in die nuus is. Die openbare beskermer se verslag, wat daarin gefaal het om hooggeplaastes te impliseer, is ter syde gestel, wat beteken dat hooggeplaaste beamptes moontlik wel voor stok sal kom. Die hartseerste van alles is natuurlik die feit dat dit arm swart mense was wat benadeel is deur die finansiële wanbestuur en waarskynlike kanalisering van geld uit hierdie projek uit.

In hul internasionale segment wonder die span hoe lank Huawei-selfone nog gebruik sal kan word, nadat Google die selfoonreus “verban” het. In antwoord op president Trump se handelsoorlog met China, word daar geen sagte- of hardeware meer aan Huawei deur Amerikaanse maatskappye verkoop nie. Die kwelvraag is natuurlik hoe China hierop sal reageer sodra 1 Junie aanbreek.

Die nuus- en politieke wêreld is dikwels kompleks. Maak seker jy weet wat aangaan. Maak seker jy luister Podlitiek!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mia ·

Transformasie van n skool beteken dwelms inbring, dalende punte en betogings. Nee dankie, ek se NEE vir transformasie, ek het ook plek en gaan nie uitgevee word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.