Podlitiek: Zille wil terug, Eben dalk betig en Duduzane laat ons sug

Eben Etzebeth rank hoog in ’n lynstaan. Argieffoto: GB Jordaan.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Hierdie week se nuus is so reg uit die perd se bek. Podlitiek het die afgelope twee weke opslae gemaak met opiniestukke in die nuus en sosiale media. Ons bespreek die effek wat dit op die DA het asook die SA Menseregtekommissie se saak teen Springbokslot Eben Etzebeth.

Eerstens bespreek Podlitiek die beleërde en benarde situasie binne die DA, waar voormalige leier Helen Zille nou haar naam in die hoed vir potensiële kandidate gegooi het om die nuwe voorsitter van die federale raad te word. Podlitiek bekyk die kwessie vanuit ‘n paar hoeke: Eerstens, is mevrou Zille werklik die beste kandidaat vir die pos? En, tweedens, wat sou die interne impak op dié party wees as sy sou terugkeer?

’n Volgende netelige kwessie is die veelbesproke Eben Etzebeth-sage. Podlitiek is bly om te sien dat die Menseregtekomissie se hoof van regsdienste moontlik betig gaan word vir sy uitsprake, maar die koor van persone wat vra dat die bokke se ysterslot terugkeer, raak al groter. Wat skuil werklik agter soveel mense se ywerige aandrang daarop dat Eben Etzebeth na Suid-Afrika moet terugkeer? Podlitiek stel ondersoek in.

Laastens word die onlangse getuienis van Duduzane Zuma oorweeg. Hierdie seun van die voormalige president was die afgelope paar dae voor die Zondo-komissie, en het geen geheim van sy bande met die Gupta-familie gemaak nie. Dit daargelaat, wonder Podlitiek of enigiemand ooit aan die pen gaan ry vir die massiewe las wat staatskaping op ons land geplaas het.

Wat internasionale nuus betref, bespreek die paneel vlugtig die onttrekking van die VSA uit Sirië, en die moontlike impak wat dit na alle kante toe kan hê.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek en praat saam!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Judge Dredd ·

Die groot koor wat wil he Etsebeth moet terugkeer is daai All Black ondersteuners groep in die Wes-Kaap. Hulle het seker geld gewed dat die All Blacks die werelbeker gaan wen, maar besef dat SA die grootste gevaar vir All Blacks is. So as hulle die Springbokke kan verswak……..

John ·

Die redes waarom die DA duik is nie weens die afwesigheid van die moederlike hand in die blou kombuis nie. Ook nie weens die afwesigheid van ‘n pot verlepte lelies op die etenstafel nie. Die DA het nooit sy getroue ondersteuners beskerm nie… hul regte geminag… en nou byt die mak ou hond sy baas waar dit seermaak. Oy!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.