Podlitiek: Zoeloes, SAL en Suid-Afrika se korrupsie-glipsie

Argieffoto.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie episode beredeneer Hermann Pretorius, Daniël Eloff, en Paul Maritz die Zoeloekoning se reaksie op die voorgestelde grondhervorming-sonder-vergoeding-wetgewing, die Suid-Afrikaanse Lugdiens se voorgenome gedeeltelike privatisering, en die korrupsieprobleem waaronder die openbare sektor tans gebuk gaan.

Die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet het verreikende gevolge vir die Ingonyama-trust, ’n trust waarbinne meeste van die Zoeloekoning, Goodwill Zwelithini se grond is. Hermann meen dat die hoeveelheid mag wat tradisionele leiers in Suid-Afrika het, grens aan die absurde, maar Paul stel dat die konteks in hierdie geval uiters belangrik is, en dat daar ʼn plek vir hierdie leiers is.

Daniël lei dan die volgende punt in: Die voorgenome gedeeltelike privatisering van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Die uitvoerende hoof van SAL, Vuyani Jarana, het op 10 Julie 2018 ʼn brief aan die vakbond Solidariteit gerig waarin hy stel dat dié beleërde lugredery van plan is om gedeeltelik te privatiseer, met gerugte dat tot 25% van SAL geprivatiseer sal word. Daniël is positief oor die gedagte van privatisering, maar Hermann en Paul is om verskillende redes effens skepties daaroor.

Paul rig die gesprek dan na korrupsie. Die minister van ekonomiese ontwikkeling, Ebrahim Patel, voer aan dat korrupsie jaarliks tot R27 miljard kos, en tot 76 000 moontlike werksgeleenthede verhoed. Daniël brei vlugtig daaroor uit dat hierdie probleem nie beter word nie, maar sigbaar vererger, met spesifieke verwysing na die onlangse nuus dat mnr. Duduzane Zuma ʼn klagte van bedrog teen sy naam gekry het.

Oudergewoonte kyk die paneel so bietjie deur die toekomsvenster na nuus wat hulle in die volgende week gaan dophou. Hermann vra of Fifa die jong Thaise sokkerspannetjie, wat onlangs uit ʼn grot in Thailand gered is, na die Wêreldbeker-eindwedstryd gaan nooi. Daniël stel belang in wat gaan gebeur tussen die Wes-Kaapse premier Helen Zille en die openbare beskermer, nadat Zille aangedui het dat sy op pad hof toe is oor laasgenoemde se uitsprake rakende Zille se Twitter-opmerkings oor kolonialisme. Paul hou Woolworths se onlangse listeriosevrees met ʼn valkoog dop, maar is optimisties oor die uitkoms daarvan.

As jy daarvan hou om te weet wat aangaan, en ʼn bietjie wil saamdink oor die toekoms, is Podlitiek net die program vir jou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adoons ·

Dankie vir die nuutste episode manne! Ek geniet die struktuur van die program en julle skertse tussen mekaar. Julle maak my en ek dink ons generasie mense vol hoop vir ons toekoms met die manier wat julle praat.

Albaster ·

Ek hou daarvan dat dit 20 minute is, dis net genoeg om in n breek te kan luister en om nie te veel data te vat nie.

Daniël ·

Baie dankie vir die gawe woorde en saam luister Adoons! Ons is bly dat julle die program geniet. Laat weet ons gerus indien julle enige voorstelle het.

Barry H ·

Ja man, nog ‘n lekker luister! Ek sien al elke Donderdagaand uit na my Vrydagoggend Podlitiek episode!

Albaster ·

Wat moet gebeur en wat gaan gebeur is heeltemal verskillende werelde, veral in die deel van die wereld waar mense gladnie rasioneel stem of optree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.