Podlitiek: Zuma-spioene, verkiesingsbewerings en die Reserwebank

Die Reserwebank. Foto: ANA

Opgestel deur die Podlitiek-span

Soos die Zuma-spioene wat vandeesweek besef het hulle is hul kamoeflering kwyt, kom alles uiteindelik aan die lig. Hierdie week se bespreking gaan oor die Zuma-spioene, die Instituut van Rasseverhoudinge (IRV) wat verkiesingbewerings maak en die Reserwebank se nasionalisering.

Paul Maritz lei die episode in met die (heeltemal voorspelbare) skokonthullings dat voormalige president Jacob Zuma die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) vir sy eie politieke voordeel aangewend het. Reeds sedert 2005 word dié agentskap vir die persoonlike voordeel van verskeie politici aangewend, in stryd met die Grondwet van Suid-Afrika. Die span is uiters bekommerd oor hierdie situasie – as daar geraamtes uit die kas van Suid-Afrika se openbare sfeer – wat die beste gemonitor word – val, wat het mense sonder oorsig alles afgevang?

Daniël Eloff noem die IRV se nuutste verkiesingspeiling wat laasweek bekendgemaak is. Hy sê dit is wel belangrik om nie net te kyk na die persentasies wat in die media bespreek word nie, maar ook na die metodologie en fynskrif. As mens ʼn bietjie dieper kyk, blyk dit asof die moontlikheid van ’n nederlaag in Gauteng die ANC wel in die gesig kan staar, maar dit sal uiteindelik koalisies wees wat die uiteindelike stand van sake sal bepaal. Nietemin, hierdie is ’n interessante en nuttige byvoegsel tot die Suid-Afrikaanse politieke gesprek – lesers kan dit gerus dophou

Daniel du Plessis sluit dan die gesprek af deur die dreigende nasionalisering van die Reserwebank te bespreek. Hoewel aandeelhouers nie veel sê het in monetêre beleid nie, getuig dit van niks goeds nie. Wat, byvoorbeeld, sê dit vir buitelanders wat staat maak op die Bank se onafhanklikheid, veral gegewe die ANC se onderneming in sy verkiesingsmanifes om meer buigsame monetêre beleid toe te pas? Een ding wat die span met sekerheid kan sê, is dat die EFF se inspraak in die ANC se beleid duidelik nie veel afgeneem het nie. Dalk is daar iets te leer uit hierdie tipe lydende, dog vasberade, vorm van verset?

  • Sukkel jy om kop of stert uit te maak van die Suid-Afrikaanse politiek?  Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ’n skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel.  Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.