Protes in Kanada: Wat voorspel dit vir burgerlike vryheid?

Die Freedom Convoy se protesaksie teen Covid-19-mandate in Kanda. (Foto: Ed Jones/AFP)

Onlangse optrede deur Kanadese owerhede dui op ʼn toenemende aantal maatreëls wat state kan toepas om burgerlike ontevredenheid en protes te onderdruk. Hierdie optrede skep gevaarlike presedente.

Om op te som: die sogenaamde Freedom Convoy-protes is vroeër vanjaar met uitsonderlike noodwette en finansiële maatreëls deur Kanadese owerhede onderdruk.

Maatreëls het selfs sover gegaan soos algemene tydelike beslaglegging op persoonlike bankrekeninge, en nie net dit nie, bankrekeninge en transaksies is eensydig deur die Kanadese owerhede bevries.

Wanneer persoonlike en korporatiewe finansies hefbome raak waardeur regerings politieke druk kan uitoefen, dink Sakeliga, is daar groot rede tot kommer.

Voordat ons daaroor gesels, net vinnig weer ʼn kykie na staatsbestandheid en wat ons in Verskans se opsig daarmee bedoel. Met staatsbestandheid bedoel ons dan die noodsaak vir gemeenskappe, individue en sakeondernemings om wal te gooi teen moontlike ongesonde optrede deur die staat.

Ons besef dat brandmure as’t ware nodig is om die burgery teen gevaarlike misstappe van regerings te beskerm. Staatsbestandheid berus op ʼn realisme wat sien dat hierdie brandmure nie noodwendig voldoende uit die staat se eie meganismes geskep kan word nie.

Verskans word dus gerig deur ʼn redelike skeptisisme teenoor regerings se optrede en beleide. Eenvoudig gestel; dit is nodig om die optrede van owerhede te bevraagteken en waar nodig verantwoordbaar te hou.

Hierdie skeptisisme is nie om gesag of hiërargie op sigself te verwerp nie. Dit leer egter uit die geskiedenis en dit dui daarop dat state met ongebreidelde mag geneig is om opmerklike en ernstige probleme te veroorsaak.

Probleme sluit in ondoeltreffendheid, verdraaide aansporings, wanbestuur, korrupsie, magsmisbruik, en selfs kwaadwillige optrede teen bevolkings en minderhede.

Hierdie is verder ook ’n skeptisisme teenoor sentrale beplanning. Daardie geloof dat die staat komplekse maatskaplike stelsels suksesvol deur bo-na-onder sentrale bevel kan bestuur.

Dit loop ten laaste lugtig vir grootskaalse magskonsentrasie in enkele instellings.

Terug by Kanada. Hierdie gebeure dui op wesenlike gevare vir privaat eiendom. Dit dui ook op ʼn ontluikende etos van uitbreidende staatsmag. ʼn Etos wat klaarblyklik heers onder invloedryke beleidmakers.

Die Covid-19-pandemie se hantering is sprekend hiervan.

Verskeie ander lande met Westerse konstitusionele tradisies het hardhandig en onverskillig ongekende drakoniese beleide op bevolkings afgedwing. Suid-Afrika is maar ʼn enkele voorbeeld.

Ons moet sulke gevare in die oë te kyk.

Kanada dui op die noodsaak om die risiko’s van drakoniese ingrypings in die finansiële stelsel deeglik te beskou.

Ons bespeur verder ʼn noemenswaardige bedreiging vir belangrike burgerlike vryhede. Dit is die koöptering van privaat instellings deur eensydige voorskrifte van regerings om drakoniese beleide uit te voer.

In hierdie stelsel word sakelui as’t ware ingelyf om as agente van wat Sakeliga ʼn gemoniteerde toesigsamelewing sal noem op te tree.

Kom ons ontleed dié gebeure in Kanada bietjie dieper. ’n Groot groep vragmotorbestuurders het vroeër vanjaar ’n protesaksie teen verpligte inentingsmandate begin.

Inentingsmandate was nog altyd omstrede.

Die protes het wel gepaard gegaan met twyfelagtige optrede soos grensversperrings en ontwrigting van middestede. Vergeleke met Black Lives Matter (BLM)-protesaksies waar stede in vlamme was, was hierdie protes gematig.

Die situasie het egter vinnig vererger toe Kanadese owerhede op hierdie protesteerders toegeslaan het.

Daar is later met uitsonderlike noodmaatreëls wat baie selde in Westerse demokrasieë gesien word, opgetree.

Hierdie noodmaatreëls is kragtens die Kanadese Wet op Noodtoestande deur eerste minister Justin Trudeau uitgevaardig. Dit is later bekragtig.

Die Kanadese regering het daarvolgens algemene instruksies uitgevaardig om bankrekeninge van protesteerders te vries, en selfs mense wat net bloot bydraes gemaak tot die protes is hierdeur geraak.

Bykans alle finansiële instellings in Kanada is vereis om hierdie instruksies namens die owerhede toe te pas. Die protes is uiteindelik hardhandig onderdruk, maar met heelwat konstitusionele vraagtekens selfs uit Kanada se eie geledere.

Ongeag jou mening oor die protesoptrede, hierdie ingrypende en outokratiese hantering daarvan moet versigtig beskou word.

Mens kan miskien simpatie vir Trudeau se optrede hê as jy seker is dat behoorlike regsproses gevolg is waar gemenereg misdaad bewys is.

Die maatreëls is intussen opgehef.

“Trudeau het die Rubicon van inmenging in die persoonlike finansiële handelinge van burgers oorgesteek, iets wat meer van outokratiese state soos China verwag sou word,” het die Sentrum vir Risiko-ontleding oor die situasie gesê.

Sulke drakoniese optrede kan uiteraard ’n bedreiging inhou vir die grondliggende onafhanklikheid en vryhede van burgers.

Koos Malan,  ʼn professor in publieke reg aan die Universiteit Pretoria, het in Sakeliga-voorleggings aan die parlement voorheen verduidelik dat eiendom, en die beheer daaroor, ’n fundamentele element van ’n gesonde burgery is.

Waar state eiendomsregte ondermyn, word burgerskap ondermyn. Op die ergste sal sodanige optrede burgers in blote onderdane verander.

Is die voorbeeld van Kanada nie moontlik ’n uitsondering of uitskieter in die Weste nie? Ons is nie so seker nie, maar kom ons verduidelik.

In die verlede is reg om protes en meningsverskille gewoonlik as belangrik geag. Nou blyk dit dat diegene wat aan die verkeerde kant van ’n politieke protes val se bankrekeninge op die spel kan wees.

Dis nou as ander politieke leiers in ander jurisdiksies met Trudeau se optrede saamstem. Waar staan hierdie leiers en beleidmakers nou? Kom ons kyk na die konteks ná Covid-19-pandemie.

Tydens Covid-19-pandemie is ’n verstommende koördinering of groepdenke in beleidsformulering onder bykans alle belangrike politieke leiers waargeneem. In talle Westerse state was daar min verskil met optrede uit China.

Verder het min belangrike Westerse wêreldleiers Trudeau se optrede openlik sover gekritiseer.

Gevolglik moet die knellende bedreiging dat Trudeau as ’n beleidsinspirasie vir ander regerings kan dien nog weerlê word.

So waar laat dit ons dan? Om teen so ’n ontluikende risiko van ʼn gekoöpteerde finansiële stelsel te verskans, moet mens daaraan werk om regstreekse beheer oor finansiële bates te versterk.

Individue, gemeenskappe en ondernemings moet dus vorm aan strategieë vir finansiële onafhanklikheid en verskansing.

In Verskans se volgende episode sal ons ’n paar idees bespreek wat nou deel van ’n strategie vir finansiële onafhanklikheid moet uitmaak. Dit is veral van belang vir individue en instellings wat die gevaar loop om aan die verkeerde kant van die huidige aftakelende kanselleerkultuur en drakoniese politiek gevang te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

casper ·

Die probleem met demokrasie uis dat sodra ‘n regering verkies is dink hulle dat hulle die mense is wat gevoer en gedien moet word en nie die bevolking nie.

Patrick ·

wow, baie dankie vir dis. Ek is n’ Kanadense. Ek is 0% Boer, ek net self Afrikaans geleer.

Ek haat Trudeau maar die situasie is baie sleg omdat die “conservative party” is nie ander van die Liberal een nie :(

Ons het die People’s Party of Canada en hulle kon somtyd julle Boere help maar hulle het maar 6% van die votes.

Kobus ·

Goeie artikel maar Regte en vryheide kan net sover uitgeoefen word totdat hulle ander se regte en vryheid oorskry. Ek dink nie die Kanadese se regering het dit altyd reg hanteer nie, maar die ander kant van die munt was soos volg; die optoggangers het vir weke die midde stede oorgeneem, paaie geblokkeer, en heeltyd hul vragmotors se toeters gedruk, mense se besigheide moes toemaak en mense het hul inkomste en besigheide verloor, die geraas wat hul gemaak het, het dit onuithoudbaar gemaak vir inwoners in daar die areas. Die grense is geblokkeer en mense en goedere kon nie beweeg nie. Die grootste eis was nie freedom oor COVID nie, maar dat die eerste minister wat demokraties verkies is, vervang moes word. Hof bevele is verontagsaam en die polisie was magteloos. So dit hang seker af van water Kant jy jouself bevind het. Meer ingewikkeld as wat jy dink.

Heinrich ·

Nie so ingewikkeld nie. Mense protesteer teen die ontneming van hulle grondwetlike regte en gesprek van Tredoux se kant af was nie ‘n opsie nie. Dit was vreedsaam en is met mag en geweld onderdruk. Heeltemal verkeerd hanteer deur Tredoux.

Esme ·

Die probleem van ons tyd, volgens my, is dat ‘n demokratiese verkose leier, sy mag misbruik en met tyd, nie meer sy ondersteuners as individue beskou nie, maar as ondergeskiktes wat instem tot drakoniese magsmisbruik.
Justin Trudeau het volgens my, nie gehoor gegee aan sy ondersteuningsbasis nie, maar sy mag in so ‘n mate misbruik dat hy self, verantwoordelik was, vir skade en woede uitbarstings wat verhoed kon gewees het.

Schalk ·

Politieke inmenging en die beheer van die mens deur ‘n ander mens met die wet aan sy kant is nie demokraties nie. Op die punt is demokrasie ook nie ‘n suskses gewaarborgde stelsel nie en net so goed soos die mense wat dit bestuur. Politiek maak siek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.