Saak teen SEB-regulasies draai weer in hof; plaaslike ekonomiese situasie bekyk

SEB-swart-ekonomiese-bemagtiging

(Foto: Rawpixel/Pixabay)

In hierdie week se aflewering van 3 Minute, 3 Sake praat Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder van Sakeliga, oor dié organisasie se uitgebreide veldtog teen SEB-en verkrygingsregulasies wat die week weer in die hof gedraai het.

Van Onselen kyk vervolgens na die ekonomie in die tweede kwartaal en, laastens, na stof tot nadenke vir sakelui in die huidige ekonomiese toestande.

Sakeliga het ʼn veldtog teen swart ekonomiese bemagtiging (SEB) van stapel gestuur. Dit vind saam met die jongste hofsaak in die Grondwethof oor SEB plaas en die saak is Dinsdag in die hof aangehoor.

Die saak gaan oor die toepassing van algehele uitsluiting van regeringstenders van sakeondernemings wat nie die SEB-vlakke behaal nie.

Die vereiste vlakke kan ingevolge tesourieregulasies bykans arbitrêr deur staatsamptenare bepaal word. Sakeliga verdedig sy gunstige uitkoms in die hoogste hof van appèl teen hierdie praktyk.

Tito Mboweni, die minister van finansies, met die EEF as vriend van die hof, ondersteun hierdie vorm van SEB se toepassing. Die saak is aangehoor en uitspraak word later vanjaar verwag.

Ongeag die uitspraak en politiek daaragter, meen Sakeliga die saak vir ekonomiese doeltreffendheid in tenders, die oppergesag van die reg, en probleme met pogings tot sentralistiese, hewig burokratiese, bevelspogings tot regstelling moet in die howe uitgewys word.

Indien dan nie die sodanige toepassing van SEB nie, wat is dan die oplossing? Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, meen die oplossing is “vrye sake” oor ras- en gemeenskapsgrense heen.

Sakeliga het sy lede aangemoedig om waarde te skep oor alle grense van besigheid, ongeag die aard van ondeurdagte regulasies.

Volgende kyk Van Onselen na hoogtepunte uit Sakeliga-ETM se komende ekonomiese oorsig vir besluitnemers in die sakewêreld.

Vrese oor ’n “derde golf” van Covid-19-infeksies word toenemend in die gewilde media, veral sedert die situasie in Indië, uitgespreek. Luidens berigte word ’n toename in Suid-Afrika se gevalle en hospitaalopnames gesien. Dit beteken ongelukkig dat plaaslike sakeondernemings hulself gereed moet maak vir ʼn herinstelling van inperkings.

Wêreldtoestande is egter grootliks ondersteunend vir die rand, ondanks ’n gebrekkige binnelandse beleidsomgewing. Dit kan natuurlik verander en inflasiedruk wek kommer dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) koerse later in 2021 sal verhoog.

Die onteieningswetsontwerp en beoogde grondwetwysiging van artikel 25 bly vir die burgerlike samelewing op die voorgrond. Sakeliga sal sy lede en die publiek hieroor ingelig hou.

Dan, laastens, gegewe risiko’s: Wat moet ondernemings nou doen? ETM en Sakeliga bied die volgende konteks vir oorweging:

Sakeondernemings moet voordele oorweeg en benut wat die sterk rand vir kleinhandelsektore inhou. Dit sluit byvoorbeeld moontlike goedkoper invoere van noodsaaklike produkte in.

Mynbou en verwante bedrywe is oorgehaal om in die tweede helfte van die jaar goeie vertonings voort te sit. Uitvoerders sal waarskynlik voordeel trek uit ’n sterk internasionale aanvraag, wat die nadele kan neutraliseer wat die sterk rand op inkomste het.

Lae rentekoerse sorg verder vir ’n sterk oplewing in sekere residensiële eiendomsegmente; meet egter daardie voordele teenoor moontlike rentekoers- en inflasierisiko’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.