Luister in 3 minute: Sentralisasie se impak op gesondheidsbedryf bekyk

(Argieffoto: Luca Sola/AFP)

Gerhard van Onselen van Sakeliga is terug met nog ʼn episode van 3 Minute, 3 Sake waarin hy die verslapping van sekere Covid-19-regulasies op die plaaslike sakewêreld ondersoek, asook die moontlikheid van ʼn stygende werkloosheidsyfer en die uitwerking van sentralisasie op die gesondheidsbedryf bespreek.

Alhoewel die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) meer optimisties is oor globale groeivooruitsigte, het die instelling Suid-Afrika se vooruitsigte afwaarts aangepas vir 2021 en ’22.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) het vroeg vandeesweek in sy weeklikse oorsig geskryf dat ʼn verslapping van sekere Covid-19-regulasies waarskynlik was. Dit was toe die geval en pres. Cyril Ramaphosa het verslappings aangekondig.

Verligting van die Covid-19-maatreëls word natuurlik verwelkom, maar die sake-omgewing is steeds omvergewerp. Bedryfskade en -koste het in verskeie sektore opgehoop.

Die nuwe verslappings skakel ook nie die beleidsrisiko’s van toekomstige of nuwe inperkings uit nie.

Sover was die boodskap uit Pretoria hard en duidelik: Sekere ondernemings en bedrywighede sal eenvoudig, hardhandig, en met min empatie, geheel en al verbied word.

Inperkings dreig dus steeds, veral in sommige sektore. Daarom bly gewone sakebedrywighede soos voorraadaankope, produksie en investering in blootgestelde sektore, soos drank, toerisme en vermaak, baie riskante praktyke.

Groter toekomssekerheid oor inperkings is nodig om sakelui oor aanstellings, voorraadaankope, produksie en investering gerus te stel.

Voorts sal Suid-Afrika se jurisdiksie se gunstigheid deurgaans nog meer teenoor ander jurisdiksies opgeweeg word.

Sakeliga vra daarom vir doelgerigte markvriendelike hervorming in die komende staatsrede.

Luidens ʼn berekening deur Mike Schüssler en Phumlani Majozi vir Rapport kan die uitgebreide koers van 43% tot by 51% styg – ʼn risiko weens volgehoue vlak-3-inperkings. Dié inperkings is intussen gedeeltelik verslap, wat natuurlik die prentjie effe sal verbeter.

Luidens dieselfde berig noem Cosatu ook kommer oor werksverliese, sluitings van ondernemings en miljarde rande se verliese. Klaarblyklik het ʼn begrip van kostes hiervan by dié alliansievennoot posgevat. Dit is ʼn moontlike ligpunt.

Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Centre for Development and Enterprise (CDE), reken dat werkloosheid nie opgelos sal word sonder sneller en volgehoue arbeidsintensiewe ekonomiese groei nie. Bernstein hoop daarom dat fabrieke na Suid-Afrika gelok sal word.

Die vraag is egter tot watter mate die beleidsklimaat tans gunstige verandering ondersteun.

Veral gegewe neigings van verskerpte swart ekonomiese bemagtiging, gevare van die herinstel van Covid-19-inperkings, en ander probleme vanweë onoordeelkundige regeringsideologie.

Dit word lank reeds veronderstel dat mediese dienste en regeringsentralisasie en burokrasie hand aan hand loop.

Dit is die geval omdat die mediese sektor al lank onder state se regulering setel. Maar tot watter mate speel sodanige burokrasie en sentralisering ʼn rol in die huidige krisis?

Maroela Media het vroeër berig oor honderde gekwalifiseerde medici wat sonder werk sit in ʼn ongekende gesondheidskrisis. Moneyweb skryf onlangs ook oor junior dokters wat selfs te midde van die Covid-19-druk op hospitale nie aanstellings kon bekom nie. Druk op hospitale en mediese personeel is wel gebruik om die drakoniese ekonomiese inperkings te regverdig – inperkings wat groot skade aan lewens en lewensmiddele aangerig het.

Prof. Alex van den Heever, ʼn kenner in openbare gesondheid, reken die regering se mediese begroting is “nie aanpasbaar genoeg nie”. Daarom kon, meen hy, sulke dokters nie aangestel word nie. Daar is egter ook talle ander regeringsregulasies wat moontlik die aanbod van mediese dienste en innovasie beïnvloed.

Enkele voorbeelde: Opleiding van dokters en gemeenskapsdiens word sentraal bestuur; hospitaalbeddens word regulatories vasgestel (sertifikate van behoefte), middels, soos ivermektien, word sentraal goedgekeur (Sahpra).

Die lys van regulasies is lank en beïnvloed die mate wat mediese dienste en mediese innovasie kan realiseer, asook die prys van dienste.

Die mark in mediese sorg ervaar baie rompslomp en is geensins ʼn “vrye mark” nie.  Is dit dan regtig ʼn verrassing as ʼn stelsel wat só deur burokrasie en regulasies bemoei word nie maklik by groot uitdagings soos Covid-19 kan aanpas nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.