Sakeliga gee siening oor verpligte inentings en staatsbestandheid

(Argieffoto: Alan Winde/Twitter)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen die reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se jongste Covid-19-televisieverklaring, Sakeliga se mening oor verpligte inentings en deel ʼn paar inleidende gedagtes oor staatsbestandheid.

Verskeie instellings, Sakeliga ingesluit, het gereageer op Ramaphosa se toespraak oor die regering se Covid-19-reaksie op 28 November. Dit volg ná die bekendmaking van die nuwe virus-variant, Omikron.

Sprake van ʼn nuwe Covid-19-variant is wêreldwyd met groot paniek begroet. Verskeie lande het onmiddellike reisbeperkings op Suid-Afrika ingestel en daar heers tans groot onsekerheid oor die variant se uitwerking.

Die Sentrum van Risiko-analise (CRA) maan egter tot kalmte totdat verdere inligting oor die verloop van die variant bekend is.

In sy reaksie het Sakeliga sy kommer uitgespreek oor sprake van verpligte inentings.

Sodanige dwangstelsel kan beteken dat permanente liggaamlike monitering en kontrole die lig sien.

“Kom ons kyk terug, voorheen is belowe deur Ramaphosa self dat niemand gedwing sal word nie. Dwang is egter nou die kruks van die saak. Covid-19 is ook nie die enigste gevaarlike en dodelike aansteeklike siekte is Suid-Afrika nie. Dink ook aan TB en ander.

“Tot watter mate is ʼn mens dan gemaklik dat jy gereeld deur die regering as gesond gesertifiseer moet word om te mag leef en handel?”

Dit is die moeiliker vrae oor liggaamlike selfbestuur wat versigtiger oorweging verg.

Hoe word Sakeliga se standpunt oor verpligte inentingsmandate opgesom? Sakeliga gee erkenning aan legitieme meningsverskille en verskillende risikobestuurstrategieë.

Piet le Roux en Russell Lamberti, albei van Sakeliga uitvoerende bestuur, meen sakelui moet maniere vind om opregte en legitieme verskille in mening en strategie te akkommodeer.

Suid-Afrikaners moet eerder samewerking opsoek en respek handhaaf vir verskille onder mense. Eerder dit as om eenvormige oplossings, soos staatsgedwonge inentingsmandate, op mekaar as sakelui, mekaar se maatskappye en mekaar as persone af te dwing.

En laaste: Hierdie week bied ons ʼn eerste insetsel in gedagtes oor staatsbestandheid. Dit is ook ter inleiding tot volgende jaar se verandering aan 3 Minute, 3 Sake.

Wat is die grondslag vir staatsbestandheid? Basies gestel, die optrede van regerings moet ook aan dieper beginsels gemeet word, en alle regeringsoptrede is nie bloot geoorloof nie.

Idees soos wigte en teenwigte het ʼn lang geskiedenis in staatsleer. Sentrale politieke leerstellings beklemtoon ook die noodsaak om regerings se magte in te perk. Duidelik kan staatsoptrede nie ongetem voortvloei nie; dit is gevaarlik, en die geskiedenis wys dit.

Wanneer mag en moet verset teen regeringsoptrede dan plaasvind?

ʼn Onlangse verslag deur AfriForum en Opinor oorweeg die etiese grondslag vir burgerlike verset. Robert Duigan, navorser by Opinor, wys op die beginsel van “lewensbelangrike belange”.

Dit is belange wat noodsaaklik is vir individuele, kulturele en geestelike oorlewing. Sulke belange raak aan sake soos eiendomsreg, privaatbesitreg, kultuursekerheid, liggaamlike integriteit, vryhede en outonomiteit.

Wanneer regeringsoptrede teen sulke lewensbelangrike belange indruis kan, en moet, verset oorweeg word.

Die aard en proses van verset is egter belangrik. Duigan beklemtoon ʼn stelselmatige proses waarin griewe stapsgewys gedeel word.

Die beginsel van geweldlose verset, reken Duigan, is gewoonlik die beste opsie in meeste gevalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Sakeliga se ontleding van verpligte inentings en die gevolge is ingelig en intelligent. Meeste sien die gevaar oor die hoof. Orwell se 1984.

casper ·

Man ja – Die inentings bekamp dald erge nagevolge maar die verhoen nie dat jy Covid kan kry of wersprei nie.

Nici ·

Goed gese. Mag moet binne perke gehou word en die hoof van die EU wat nou se dat die Nuremburg Code verwerp moet word sowat tagtig jaar na die Nazi’s die vreeslikste misdade gepleeg het, gee groot rede tot kommer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.