Staatsrede 2017 sal vir al die verkeerde redes onthou word


Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede op 9 Februarie 2017 (Foto: Ngizozo Jiyane, GCIS)

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede op 9 Februarie 2017. Foto: Ngizozo Jiyane/GCIS.

Die gebeure rondom vanjaar se staatsrede sal in Suid-Afrika se geskiedenisboeke opgeteken word, maar die inhoud van die president se toespraak sal ongelukkig nie dieselfde boeke haal nie.

Dit is die mening van verskeie politieke ontleders ná president Jacob Zuma sy staatsrede Donderdagaand byna 90 minute later as beplan en voor ʼn halfvol nasionale vergadering gelewer het. Die ontleders was dit eens dat die staatsrede ʼn herhaling was van verskeie aspekte wat reeds in die vorige vyf jaar se staatsredes geopper is. Dit het baie oor regeringsuksesse, -planne en -programme bevat, maar weereens min te sê gehad oor beleidsaspekte. Kenners meen ook dat sy toespraak deurspek was van weersprekende gedagtes.

“Die eerste derde van sy toespraak was heeltemal ten gunste van besigheid en dit het vir my gevoel of hierdie gedeelte van die toespraak deur die ANC-lede geskryf is wat by vanjaar se Wêreld Ekonomiese Forum in Davos was. Hierdie gedeelte van sy toespraak het klem gelê op die land se beleggingsgeleenthede, maar dit word baie sterk gekontrasteer deur die latere gedeelte van die toespraak waar die president strenger reëls vir radikale sosio-ekonomiese transformasie uitgestippel het. Die afleiding wat ek hieruit maak, is dat as jy in die toekoms met die regering wil sake doen, gaan dit onderhewig wees aan baie strenger reëls,” het Theo Venter, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, gesê.

Venter het ook gesê die president het dit duidelik gestel daar is ʼn agenda vir versnelde grondhervorming. “Tog kom hy net daarna en sê die twee wette wat die instrumente van hierdie proses is, naamlik die onteieningswet en die wet op restitusie, moet beide hersien word en verwys hy die wette terug na die parlement. Daarmee het hy inderwaarheid gesê daar moet verandering in grondbesit kom, maar ons het nog nie die gereedskap om dit te verander nie.”

Mienke Marie Steytler van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge meen Zuma en die ANC-regering se sosialistiese ideologiese onderrok het ook tydens die staatsrede gewys: “Uit die staatsrede blyk dit dat die plan is om al meer dienste aan die staat oor te gee en verdere privatisering stop te sit om so van Suid-Afrika ʼn staatsgedrewe ontwikkelingsland te maak. Sosialisme mag dalk vir sommige mense goed op papier lyk, maar die wêreld is vol van voorbeelde waar hierdie ideologie deurlopend gefaal het. Dit is ongelukkig nie ʼn ideologie wat ʼn land vorentoe vat nie.

“Suid-Afrika is reeds berug vir sy onvriendelike houding teen die sakewêreld en sakemanne en -vroue sal getuig dat die burokratiese rompslomp dit veral nie maklik maak om ʼn onderneming op die been te kry nie. As dit die regering se plan is om nog meer dienste in die staat se hande te sit, gaan besigheidseienaars hulle rol in die land begin bevraagteken, wat sleg is vir Suid-Afrika se toekoms,” het Steytler gesê.

Sy het ook Zuma se lof vir China tydens sy toespraak bevraagteken. “Ek dink dit is ʼn bewys van net hoe diep die regering in hierdie land se sakke sit en ek dink nie hulle besef dat wanneer China in ʼn land belê hulle ʼn soort eienaarskap van die land neem nie. Dit mag beteken dat die regering in die toekoms met ʼn probleem gaan sit waar hulle al meer aan die Chinese regering gaan moet afstaan en swart mense steeds nie bemagtig word nie.”

Prof. Amanda Gouws, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê as mens daarin sou kon slaag om verby die chaos van een van die mees ontstellende parlementêre sessies in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te kyk, is een van die belangrikste aspekte van Zuma se staatsrede die beroep vir radikale ekonomiese transformasie.

“Zuma praat byvoorbeeld van die hefbome wat gebruik sal word om die ekonomie te transformeer soos wetgewing, aankope, regstellende aksie en die begroting. Ons het dit al alles gehoor en dit word reeds vir transformasie aangewend. Ek reken daar gaan ʼn versnelling wees maar die vraag is hoe gaan dit ingestel word. Ons weet die ANC en die kabinet is verdeeld en dit sal interessant wees om te sien hoe Zuma almal gaan oortuig om op dieselfde plek te kom om begrotings vir hierdie transformasie beskikbaar te stel. Die grootste probleem is heel moontlik die toepassing van hierdie planne,” het Gouws gesê.

Nog ʼn politieke ontleder verbonde aan Unisa, prof. Dirk Kotzé, sê hy skryf die gebrek aan beleidsverandering in die staatsrede toe aan die rede dat die ANC binnekort twee groot konferensies hou. “In Junie hou die ANC hulle beleidskonferensie en in Desember die nasionale konferensie waar die ANC se nuwe nasionale leierskap gekies sal word, vandaar die hoë mate van kontinuïteit tussen hierdie en die vorige vyf jaar se staatsredes.”

“Indien die publiek sou wou uitvind waarop die ANC-regering werklik in die komende jaar wil fokus, moet hulle egter in twee weke se tyd na die begrotingsrede luister en kyk waarvoor daar geld begroot word,” het Venter gesê.

Tog laat die gebrek aan duidelike rigting rondom politieke en ekonomiese beleid ontleders en Suid-Afrikaners gefrustreerd en in die duister oor presies wat die land se toekoms vir sy burgers inhou.

Dr. Eugene Brink, ʼn ontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsinginstituut, reken daarom kan daar amper meer gevolgtrekkings gemaak word uit wat die president nie tydens sy staatsrede aangespreek het nie: “Hy het byvoorbeeld niks gesê oor die aanklagtes van korrupsie wat soos ʼn donker wolk oor sy eie kop hang nie, of die hoë werkloosheidsyfer wat op 27,1% die hoogste in 14 jaar is nie. Hy het ook nie gepraat oor die lae ekonomiese groeisyfer van 0,2%, rassespanning of enigiets genoem van die regering se mislukkings nie. Dit sou baie meer vir Suid-Afrikaners beteken het as hy van hierdie foute erken het en gesê het ons gaan daadwerklike stappe doen en moed aan die dag lê om dinge te verander.

“Die regering het tot dusver geslaag om verskeie swak beleidstellings uit te reik. Jy kan maar van doelwitte praat, maar as jy die verkeerde middele gebruik om daardie doelwitte te bekom, is dit ʼn ope vraag hoe dit bereik en verwesenlik gaan word. As die president ná agt jaar en tien staatsredes nog nie ʼn duidelike visie vir Suid-Afrika het nie, is die vraag of hy dit ooit gaan ontwikkel. Miskien is dit waarom sy rekord tot dusver nog vanselfsprekend was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

Ja ons sal onthou. Die sirkus van die jaar. Hierdie mense het nie respek vir die wereld nie bowenal nie vir hulself nie. Sies dit was n gemors. JZ moes daar en dan bedank het en geloop het maar nie eers hy besef hulle jou hom uit nie. Genade wat makeer die man. Dan lag hy nog daaroor!

VERRAAIER ·

JA so gaan dit wees………
Die Chinese is stadig maar besig om Zuma vas te vang, gee kans hy vleg ….. met n ander nasie.

Johanna Botha ·

Dit was n groot verleentheid n skande en n groot grap …gladnie trots gevoel nie …eintlik skaam vir die sirkus …maar dis ook maar n presiese spieelbeeld van die gemors waarin SA nou is …

AL ·

Dekoloniseer is mos die nuutste vonkwoord. Met China se vingers in die koekieblik kan ons se die land moet gedechinaliseer word. Radikale ekonomiese transformasie vonkwoorde is n benoude sprong wat zuma doen om kiesers af te rokkel by EFF. Een ligpunt is dit is nie net ons wit bevolking wat anti-zuma en anti-sy regering is nie, dus is die koue minder snerpend vir ons daarbuite.

Johan Venter ·

Dit is presies hoe n land lyk wat sonder God sy sake doen en ‘n land bestuur. Ons kan so sonder God aangaan, dit beteken die land is gedoem. As mense nie gaan toelaat dat God hulle harte verander nie, gaan niks verander nie. Gaan niks beter word nie. Johan Venter Ghanzi Botswana.

Alida ·

Groot verleentheid vir almal. Die parades was pragtig georganiseer alles was mooi maar nou-ja ons almal het gesien hoe dit geeindig het. Skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.