Stimulus vir klein ondernemings misluk, mynboubedryf sukkel

mynboubedryf-02

(Foto: Wilhei/Pixabay)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die bankvereniging van Suid-Afrika (BASA) se kommentaar op die stimulus vir kleinsakeondernemings, die Minerale Raad se oorsig oor die mynboubedryf en ondersoek na hoër pryse vir knoffel en gemmer.

BASA sê die stimulus van R100 miljard wat die staat deur banke aan kleinsakeondernemings wou bied, het misluk.

“Sowat R200 miljard was bestem vir verligting deur hierdie skema. Dit was deel van die Covid-19-verligtingsprogram van R500 miljard wat pres. Cyril Ramaphosa in 2020 aangekondig het.

“Sover is slegs R18 miljard uitgeleen. Die swak opname van hierdie lenings stel sommige teleur. Banke is uiteindelik sakeondernemings en ons kan nie verwag dat banke lenings toestaan wat nie winsgewend is nie – daarom maak sakevooruitsigte soveel saak,” sê Van Onselen.

Hoekom is dié lenings juis so swak opgeneem? BASA noem drie punte: Sake-eienaars is huiwerig oor bykomende skuld. Verder wek stadige ekonomiese hervorming kommer en baie ondernemings het eerder van ander vorms van verligting gebruik gemaak.

“Waar die beleidsomgewing swak en onseker is, sal sakelui minder gewillig wees om die risiko’s te loop. Skuldterugbetalings kort uiteindelik gesonde vooruitsigte vir sake,” benadruk Van Onselen.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER) benadruk die standpunte van die Minerale Raad. Dié raad het sy jaarlikse oorsig van die stand van die plaaslike mynbedryf uitgereik terwyl die Mynbou-indaba aanlyn uit Kaapstad aangebied is.

Die raad het, luidens berigte, openlike teleurstelling oor die regering se gebrek aan beleids- en regulatoriese sekerheid uitgespreek – nie net in mynbou nie, maar ook vir die hele ekonomie.

Die buro het onder meer verwys na die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se mislukkings met radiospektrumveilings en Eskom se hernubare energieprogramme wat nie betyds afgehandel is nie. Dít, meen hulle, kan die moontlikheid van herstel te midde van entstof-optimisme belemmer.

“Suid-Afrika is deurspek met owerheidsburokrasie wat ʼn handrem bly op private oplossing. Só word markoplossing teruggehou. Noodsaaklike hervorming kan nuwe energie ontsluit,” sê Van Onselen.

Laastens kyk Van Onselen na die verbruikerskommissie wat stappe wil doen teen winkels oor die prysstygings van gemmer en knoffel.

Die Covid-19-situasie het duidelik die verbruikersvraag na gemmer en knoffel beïnvloed.

Daar was ook in 2019 minder boere wat gemmer geproduseer het, hoewel veral vertroue in immuunvoordele blykbaar daartoe gelei het dat heelwat meer mense skielik meer van hierdie produkte wou koop.

Buiten prysaanpassings, hoe presies moet ʼn skielike groter markbehoefte na ʼn produk dan hanteer word?

Ekonomies verwag ʼn mens gewoonlik ʼn tydelike nuwe hoër markprys, wat groter produksie en invoere sal aanspoor, gevolg met groter voorsiening, wat pryse weer kan afdruk.

Sou pryse nie mag aanpas nie, sal produkte bes moontlik onmiddellik uitverkoop of andersins gerantsoeneer moet word.

Diegene wat dan die dringendste sulke produkte soek, sal dan buite die “gewone verspreiding” moet soek. Die gevolg: jy koop dalk jou gemmer spreekwoordelik uit iemand se “kattebak” waar prysbeheer nie geld nie en betaal steeds ʼn hoër markprys.

“Uiteindelik dink ons dat regulasies wat poog om markpryse laer te dwing nie die gewenste voordele gaan inhou nie.

“ʼn Mens moet ten minste dieper hierna kyk voordat aantygings oor misdrywe net bloot aanvaar word,” het Van Onselen bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.