Swart Maandag vir markte wêreldwyd

ekonomie-finansies

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) het Dinsdagoggend nog gesukkel om te herstel ná markte wêreldwyd hul grootste verliese in tien jaar ervaar het.

Dit kom nadat dié aandelemark Maandag sy skerpste val sedert Oktober 2008 beleef het. Die JSE se indeks van alle aandele het Maandag met meer as 6% verswak, maar het intussen daarin geslaag om weer met sowat 3% te styg.

Volgens Bloomberg was dit ʼn historiese dag op die markte met die olieprys wat die grootse ineenstorting sedert 1991 met die Golfoorlog getoon het. Vrese oor die verspreiding van die Covid-19-virus wat sommige lande in ʼn resessie kan stuur en die wêreld se ekonomie kan vertraag, het die ekonomiese storm in die markte verder aangevuur.

Die rand het Maandagnag ná ʼn bloedbad op die markte op sy swakste vlak nog teen die euro gesluit en naby sy swakste vlak nog teen die dollar gestaan.

Volgens André Cilliers, direkteur en wisselkoersrisiko-strateeg van TreasuryOne, het die wisselkoerse Maandag skerp reageer in onsekerheid wat die olieprysoorlog geskep het.

Hy wou nie ʼn voorspelling waag oor die rand se wisselkoers met die drie grootste geldeenhede in die nabye toekoms nie, maar het gemaan dat ʼn skerp daling in die Brent-ruolieprys die rand tot hoër vlakke teen die dollar kan dryf.

“Ek wil regtig eerder nie nou ʼn voorspelling oor die rand waag nie, maar ek kan sê dat ons ʼn onstuimige tyd kan verwag waarin ʼn mens maar moet vashou aan jou stoel.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient groep, het Dinsdag aan Jacaranda FM se ontbytprogram met Martin Bester gesê hy dink nie die markte het al die impak van die nuwe koronavirus verreken nie.

“Ek verwag dat regerings wêreldwyd sekere maatreëls gaan aankondig om die markte te help en besteding te verhoog.”

Roodt sê dat sommige mense tot 10% in hulle beleggings en pensioenfondse verloor het in die onlangse markskommelinge.

“Ek wil egter ʼn baie belangrike punt hieroor maak: mense moet nie nou paniekerig raak nie. Dit is nie nou die tyd om jou makelaar te bel en alles te verkoop nie.

“Maak wel seker jy het ʼn finansiële- en aftredeplan in plek. Onthou mense raak paniekerig en dan begin hulle verkoop terwyl die aandele op ʼn laagtepunt lê terwyl die markte dikwels ʼn week of wat later heeltemal herstel. Bly waar jy is en sit op jou hande.”

Die rand het Dinsdagmiddag weer herstel na R15,97 teen die Amerikaanse dollar en R18,14 teen die euro.

Cilliers het Suid-Afrikaners gemaan dat hulle nog groot wisselvalligheid in die geldeenheid kan verwag.

  • Cilliers het met Maroela Media gesels oor die situasie met die markte en die rand. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liesbet ·

Ons het ‘n begroting vir September om Amerika toe te gaan waar my man vir die eerste keer sy kleinkind gaan ontmoet :( My hart sak in my skoene elke keer as ek die Rand/Dollar kyk in die oggende :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.