Ek lees tans deur Deuteronomium en dit is opvallend hoe sekere frases herhaal word. Die bedoeling daarmee is sekerlik om die belangrikheid en strategiese waarde daarvan te onderstreep. Ons ken mos die vermanende opmerking “ek het dit by herhaling gesê”. Die ander party het dan min verweer waarom daar nie aan die saak uitvoering gegee is nie.
Die lewe is kompleks en veelkantig. Niks is eenvoudig of vanselfsprekend nie. As ʼn mens stilsit en dink aan die dimensies van jou menswees is dit enersyds wonderlik en andersyds effe bedreigend. Soveel dinge om aan aandag te gee en soveel dinge wat potensieel verkeerd kan loop. Dit is dan wanneer die gedagte dat die Here God is, vertroos en bemagtig.
Ek het vanoggend sommer stokmannetjies, -vroutjies en -figuurtjies geteken om kinders en kleinkinders, personeel, naby vriende, familielede, ander “dinge” te verteenwoordig. Dit is mý kunswerk en dis spesiaal. Daartussen in bevind ek myself. Ons lewe in verhouding met mekaar. Ek dra (soos hulle ook) hul belange op die hart. Dit is vir my en God belangrik dat dit met hulle geseënd gaan. Ek het nodig om vir hulle te bid.
Gebed is uitdagend. Ons raak verstrengel tussen al die belange en volstaan met sulke algemene verwysings. “Here seën ons gesin, kinders en kleinkinders”, maar die name en kontekste gaan verlore. Dit help my vanoggend om sommer net ʼn kringetjie te trek rondom sommige van daardie figure en spesifiek vir daardie persoon en konteks in te tree. Môre is dit ander persone in my kunswerk. Dit alles onder die sambreel “Die Here is God”.
Om van daardie posisie af te bid is enorm bevrydend. Ek kan niks doen aan die meeste kontekste waarin mense (ook my geliefdes) hulle bevind nie. Die meeste van ons is aangewese op wonderwerke. Die Here moet asseblief ingryp. Hy doen dit ook wanneer ons aan Hom die plek gee wat Hom toekom.
- Hy is God. Ek is net ʼn mens.
- Hy kan alles. Ek sukkel maar.
- Hy weet. Ek raai.
- Hy is oral. Ek is lokaliteitsgebonde en so kan ʼn mens aangaan.
Teken vandag nog jou belange op ʼn stuk papier. Omkring wat die Heilige Gees laat uitstaan en bid daarvoor. Môre kan gerus weer die proses opvolg en dan ook vir die persone en sake bid.
Inderdaad. Hy is God. Loof sy Naam.
ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za