ToekomsVenster: Die woordjie ‘ons’

Foto: Pedro Lima/Unsplash

Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur, my hare en my baard uitgetrek en verslae gaan sit. Almal wat by die gedagte aan die opdragte van die God van Israel vreesbevange was oor dié troueloosheid van die mense uit die ballingskap, het by my kom staan. Ek het maar net verslae daar gesit, tot die tyd van die aandoffer toe. Maar teen die tyd van die aandoffer het ek daar opgestaan waar ek my met my geskeurde klere verootmoedig het, op my knieë geval en my hande in gebed uitgestrek na die Here my God. Ek het gebid: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. – Esra 9:3-6

Hierdie teks en ons omgang daarmee verteenwoordig heilige oomblikke. Ons het met die God van die heelal te doen wat rekenskap vra en mag vra.

Esra sê dat hy skaam is dat die volk so vêr van die Here weggedwaal het. Sonde is opgestapel en hemelhoog.

Ek hoor dikwels dat mense hulself verontskuldig en sê dat hulle nie deel het aan die goed wat verkeerd is nie.

Dit mag waar wees van jou as individu maar wanneer die profeet en die volk voor die Here kom identifiseer hulle hulself met die res van die gemeenskap. Dan is dit ʼn  “ons” belydenis.

Nie soos die Fariseër en tollenaar wat voor die Here staan nie. (Luk. 18:10 )

Die een regverdig homself voor die Here. Hy is darem nie so sleg soos die tollenaar nie. Dit is egter die tollenaar wat sy skuld met trane voor God bely sonder om onskuld te pleit.

Let op die gebruik van die woordjie “ons” in Esra se belydenis.

Dit is die leierskap, dominees, kerk- en bestuursrade, politici en ekonome, opvoedkundiges en media verteenwoordigers wat skuld voor die Here bely.

Ons is saam met mekaar op reis. Dalk verstaan ons ietwat meer van die implikasie van die teks in 2 Kron. 7:13

“Dan sal Ek hulle land laat genees”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Almagtige Here U die kenner van mense harte ons kom bely ons ongeregtighede wat hemel hoog gestapel is, ons is skaam daaroor en vra dat U ons sal vergewe vir ons nuwe harte en gedagtes sal gee ter wille van U Heilige Naam..Amen

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.