ToekomsVenster: Jesus word versoek

woestyn

Foto: Keith Hardy/Unsplash.com

Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg. – Markus 1:12-13

Dis opmerklik dat Markus die woord dadelik nie minder as 41 keer gebruik nie. Dis asof daar ’n haastigheid is om die versoeningsgebeure vergestalt te kry.

Gelei deur die Heilige Gees word Jesus die woestyn ingelei. Die ander Evangelies berig breedvoerig oor die tergende gebeure daar. In skaamtelose arrogansie word die Seun van die mens, die sondelose Seun van God, aan die venyn en vernederende aansprake van die duiwel onderwerp. Die woestyn is die woonplek van die duiwel en sy demone. Soos telkens in sy bediening demonstreer Jesus hier reeds wat die toekoms van die demoniese magte inhou. Vervolgens sal hulle sonder uitsondering Hom as God herken en smekend uit mense wat in slawerny verkeer, uitgaan.

Met die Woord gewapen spreek die vleesgeworde Woord woorde van teregwysing en wysheid. “Dit staan geskryf”. Dit is opmerklik dat die satan die Woord van die Here aanhaal. Dit onderstreep sy arrogansie en voortvarendheid net meer. Sy aanspraak op die koninkryke van die wêreld is vergesog en aanmatigend. Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.

Jesus loop die woestyn in sonder dat die wilde diere Hom skade berokken. Hulle herken hul Skepper in hul midde. Die engele versorg Hom. Hy is oorwinnaar oor die bose en demonstreer dit grafies deur die oop graf.

Kry die duiwel jou onder?
Jesus sê: “Dit staan geskryf”
Sit Hom op sy plek!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jerry ·

Die duiwel se boosheid in SA skuil in die verskillende isme, bv. nasionalisme, sosialisme ens. Die duiwel in SA sal eers op sy plek gesit word wanneer die verskillende ismes waarin sy boosheid skuil, mekaar verswelg en vernietig!

John ·

Nasionalisme? ‘n … isme is nie die probleem nie, maar wat voorafgaan. Alles kan ook nie mekaar verswelg nie, dan bly niks oor nie. Miskien moet die bestaan en werking van die duiwel erken word vir wat dit is. Ons doninees is deesdae so bang vir die duiwel dat hulle sy bestaan ontken wat presies is wat die wese wil he want dan kan hy lustig voortwoeker. As daar geen sleg iewers bestaan nie, is alles mos reg en goed. Geen opvoeding nodig nie en geen straf volg op ‘verkeerde’ dade nie. Alleeen kans mens nie die slegte teestaan nie, net met die hulp van Bo.

Jerry ·

John, die duiwel word op sy plek gesit deurdat die duiwel en sy demone alleen in die woestyn agterbly waar daar niks meer oor is om te verswelg en te vernietig nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.