Verskans-reeks bespreek staatsbestandheid vir sakeondernemings

(Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Baie welkom by Verskans, Sakeliga se nuwe reeks podsendings waarin Gerhard van Onselen fokus op die strategie en taktieke vir ʼn florerende kommersiële orde.

In dié episode skop ons af met die filosofie van staatsbestandheid.  Van Onselen meen die tafel moet eers dek word met onderwerpe vir toekomstige uitgawes.

Hoekom is staatsbestandheid nodig? Wat beteken dit, en waar begin ons? Dit is vrae waaraan Sakeliga voortdurend aandag gee.

Uit die staanspoor is dit duidelik dat ʼn gesonde kommersiële orde nie uitsluitlik van state of regerings afhanklik kan wees nie. Dit help natuurlik wanneer regerings reg optree om handel, belegging en private besit te beskerm. Maar wat as wolf skaapwagter word?

Wat as regulasies gunsbejag bevorder, staatsmonopolie vestig en versterk, en Jan Alleman se belange en strewe onregverdig onderdruk, beskadig of benadeel? Wat as die skadelike politieke idees van die dag in wet omskep word? Wat as gesonde sake ontwrig word en ons lewensmiddele en ambisie willens en wetens bedreig word?

Kan ons oorregulering, monopolisering, die bevordering van gunsbejag en ander inbreukmaking op billike vryhede dan net so gelate aanvaar? Wat as jou stem prakties gesproke nie werklik jou lewensnoodsaaklike belange beskerm nie? Hoe dan gemaak?

Dan, glo Sakeliga, kom staatsbestandheid in die prentjie. Staatsbestandheid verg eerstens miskien dat ʼn mens deur propaganda en leuens moet kan sien.

Regerings skets altyd hul optrede, selfs skadelik optrede, in die beste moontlike lig.

Suid-Afrikaanse sakemense hoor gereeld van die “openbare belang”, maar nie alles wat in die naam van die openbare belang gedoen word, is werklik in die openbare belang nie.

Was inperkings weens die pandemie regtig in ons belang, nadat al die skade en koste opgeweeg is?

Ons moet die werklikheid van die leuens kan onderskei, meen Van Onselen. Dit verg gesonde insig, betroubare analise en ʼn akkurate kompas.

Dit bring ons by die verdere grondslag vir staatsbestandheid. Wat neerkom op ʼn belangrike morele en politieke vraag: Wanneer mag en moet ʼn mens “nee” sê vir skadelike regeringsoptrede?

Vantevore het ons gekyk na die begrip van “lewensbelangrike belange” (oftewel vital interests). Soos Robert Duigan in sy verslag vir die ideesentrum Opinor verduidelik, mag die publiek terugdruk wanneer lewensbelangrike belange bedreig word.

Asook wanneer regerings die staat se magapparatus misbruik om mense te onderdruk. Die geskiedenis is deurspek met voorbeelde waar dit nodig was om terug te druk. Dit sal naïef wees om nie wakker te wees oor hierdie sake nie.

Duigan meen dat die manier van terugdruk, oftewel die dilemma van die behoorlike taktieke, versigtig oorweeg moet word. Die manier waarop griewe gedeel en hanteer word, is belangrik. Duigan wys daarop dat geweld bykans nooit ʼn goeie taktiek is nie.

Een doeltreffender manier van terugdruk is om te organiseer en hier sien ons beslis die waarde van krag in getalle. In Suid-Afrika het ons verskeie sterk gemeenskapsinstellings wat reeds ʼn toenemende impak maak.

Suid-Afrika het beslis sterk private gemeenskapsinstellings nodig om druk uit te oefen. Uiteindelik moet ons self die kommersiële orde bewaak, hetsy in ons individuele belange en ondernemings, maar ook op groter georganiseerde en institusionele vlak. Dit is waar Sakeliga en ander ʼn rol speel.

Die realiteit is dat die beleidsomgewing tans ongunstig vir sake is. Só beklemtoon Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, gereeld.

ʼn Gunstige sakeomgewing, meen Le Roux, is té belangrik om bloot aan regerings oor te laat. Suid-Afrikaners moet saam werk om ʼn gesonde kommersiële netwerk te vestig waar almal uit gesonde sake kan baat. Die lokus van beheer, soos sielkundiges sal sê, moet intern wees, in ons eie hande.

Op die vlak van die individuele sakeondernemings, meen Le Roux, kan verskeie stappe oorweeg word om staatsbestand te raak.  Diversifisering kan jurisdiksie-risiko verminder, deur byvoorbeeld jou bates en bedrywighede oor grense te diversifiseer – en dit gebeur reeds soos ons in Sakeliga se ledepeilings gesien het.

Ons kan ook kyk na dinge soos die skanse wat internasionale ooreenkomste bied. Diversifisering hou natuurlik koste in, maar die koste van uitsluitlike blootstelling aan skadelik beleid is ook hoog.

Daar is ook vrae oor ander dinge, soos fisieke sekerheid. Soos Julie 2021 se onluste gewys het, kan ons ook nie uitsluitlik op die regering hiervoor steun nie. Daar moet ons ook organiseer en speel burgerregte-instellings ʼn kardinale rol.

Dan moet ondernemings ook versigtig die risiko van hul blootstelling aan die regering self oorweeg. Plaaslik is talle probleme met sake doen met die staat ooglopend. Sekere munisipaliteite kan nie eens meer hul mense betaal nie, hoeveel te meer hulle verskaffers.

Die breër koste van swart ekonomiese bemagtiging en ander probleme moet versigtig oorweeg word. Sakeliga meen ondernemings moet sake met die regering uiters versigtig oorweeg.

Dit was maar slegs ʼn inleiding en in die vervolg sal ons deurdringend kyk na onderwerpe wat raak aan staatsbestandheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.