Die jong sangeres Julanie J se splinternuwe enkelsnit, “Sandkastele”, wat pas uitgereik is, wil mense daaraan herinner om mekaar te waardeer terwyl hulle kan, want ʼn mens se tyd saam is dikwels veel minder as wat jy gedink het.
“Ek het iemand baie naby aan my in 2018 verloor. Dit het my tot in my fondasie geruk en dit wat ek geglo het, is honderd maal deur dié verlies getoets. Ek het aan die einde van dié jaar met ʼn skok besef net hoe kort ons tyd hier op aarde is.
“Dit is ʼn eer om iemand te kan liefhê en nog meer as hulle jou ook liefhet. Die tyd loop te vinnig uit en ons vergeet soms wat werklik saak maak in die lewe,” sê sy.
Die musiekvideo van “Sandkastele” word Vrydag amptelik op Maroela Media bekendgestel.
Julanie vertel meer van die maak van die video: “Ek kan nie beskryf hoe mooi die plek in Vermaaklikheid is waar ons die musiekvideo geskiet het nie. Dit is asemrowend.
“Die span was fantasties en dit sê ʼn mens nie sommer nadat jy vir vier dae met min slaap, nie genoeg koffie en persoonlike spasie moes werk nie. Elke mens op stel het hul talente, idees en kreatiwiteit opgeoffer om hierdie video super spesiaal te maak. My hart loop oor van dankbaarheid teenoor elkeen in die span en ons sien uit daarna om die video volgende Vrydag bekend te stel.”
Julanie wat onlangs haar 21ste verjaardag gevier het, het haar eerste liedjie op die ouderdom van vier jaar geskryf en haar debuutalbum Spirit Breakout (2015) het binne 24 uur die Top-30 van die internasionale iTunes-trefferlys gehaal. Sy is in 2016 vir ’n Mzanzi Christian-prys benoem.
Sy skryf ook liedjies vir verskeie ander kunstenaars en het al onder meer liedjies geskryf vir Lokua Kanza, sowel as vir Helmut Meijer AKA Calev, Sanet Lambrechts en die sangeres Nadia Vorster.
“Sandkastele” is haar tweede liedjie wat in 2019 in samewerking met Warner Music opgeneem en uitgereik is. Die eerste enkelsnit “Dalk is ek” het in Julie vanjaar die lig gesien.
“My hart wil spring elke keer as ek dit op die radio hoor of as ek sien hoe ander mense ‘Dalk is ek’ ook geniet. Dis eerlikwaar so lonend,” sê Julanie opgewonde.
Julanie J werk tans saam met musiek-vervaardiger Gideon Botes aan die vollengte album wat in 2020 uitgereik word. Botes is bekend vir sy ateljeewerk met onder andere Nianell, Watershed, Karlien van Jaarsveld, Corlea Botha en die Soweto String Quartet.
“Die een ding wat ek nog altyd wou doen is om vir mense hoop te gee – al is dit net vir ʼn oomblik terwyl hulle na my musiek luister. Dit is vir my regtig belangrik, maak nie saak waaroor die liedjie handel wat ek skryf of sing nie, dit is die eintlike doel van my musiek,” sê sy.
- Besoek Julanie J se Facebook-blad of volg haar op Instragram om op hoogte bly van haar konserte en musiek.
- Luister ook bo-aan hierdie berig na Maroela Media se volledige onderhoud met Julanie oor die musiekvideo van “Sandkastele”.
- Hier is die musiekvideo van Julanie J se jongste, “Sandkastele”.
Nou waarvoor staan die”J” wil ek graag weet.