Deel in RSG se ongewone ‘Wittebrood’

Anrich Herbst, Archie Nhlapo, Marelize Engelbrecht, Elma Postma, Ivan Zimmerman en Nina Marais met Christelle Webb-Joubert (regisseur) voor.

Anrich Herbst, Archie Nhlapo, Marelize Engelbrecht, Elma Postma, Ivan Zimmerman en Nina Marais met Christelle Webb-Joubert (regisseur) voor. Foto: Verskaf

CJ Langenhoven het gesê: “Wie liefde verwar met sinnelikheid, sien ʼn engel aan vir ʼn aap.” Riana Scheepers vertel háár weergawe van die liefde wat nie noodwendig moet sin maak nie, in die radiodrama Die wittebrood in RSG se Radioteater.

Scheepers se heel eerste radiodrama, ʼn Lang, lang nag, is in 2014 deur RSG uitgesaai.

Die wittebrood vertel die storie van Lucas Malherbe en Klara Bester wat verskil soos dag en nag, maar heeltemal versot is op mekaar. Klara hou daarvan om in beheer te wees en dit is waarom sy nie kan verstaan waarom Lucas haar nie wil sê waarheen hulle vir hul wittebrood gaan nie. Hy beloof ʼn vakansie in die paradys, en ʼn magiese wittebrood wat sy nooit sal vergeet nie, maar dan begin dinge skielik skeef loop…

Al begin dié verhouding effe wankelrig, word Lucas en Klara verras deur wat vervolgens met hulle gebeur.

Volgens Scheepers is dié ongewone liefdesverhaal gegrond op ʼn ware verhaal. “My man was kort ná hierdie gebeurtenis, waarop Die wittebrood gegrond is, in die Okavango, en het self met die mense daar gesels oor wat gebeur het,” sê sy. “Dit was ʼn Duitse wittebroodspaar, maar ek het dit natuurlik ʼn Afrikaanse paar gemaak. Kan jy jou indink hoe daardie huwelik begin het?”

Elma Postma en Anrich Herbst vertolk die hoofrolle in die verhaal. Ander spelers is Ivan Zimmerman, Nina Marais, Marelize Engelbrecht en Archie Nhlapo. Nhlapo speel gewoonlik in Engels vir RSG se susterstasie, SAfm, en kan nou vir die eerste keer in Radioteater gehoor word.

Die regisseur is die aktrise en omroeper Christelle Webb-Joubert. Sy het twee dekades gelede as ʼn tweedejaar-dramastudent aan Tukkies die tweede plek in die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie behaal met haar radiodrama Het ek ʼn keuse?

Sy sê sy was destyds teleurgesteld met hoe haar drama geklink het. “Daardie aand het ek myself beloof dat ek eendag ʼn regisseur van radiodramas gaan wees, sodat ek die stories kan laat klink soos ek wil hê dit moet klink,” vertel sy.

Die wittebrood word vanaf Donderdag 19 Mei 2016 om 20:00 op RSG in Radioteater uitgesaai.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ester Steenkamp ·

Die Beste Radiodrama wat ek nog gehoor het.

Dankie. Kan Riana Scheepers asb vir ons nog dramas skryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.