Drama, intriges, onderwêreld in ‘Lewe na die noot’

Agter v.l.n.r. is Hannah Borthwick, De Klerk Oelofse, Marlo Minnaar, Leon Kruger, Frieda van den Heever, André Terblanche en Johann Stassen. Voor is Wilken Calitz, saam met Johan Rademan

Agter v.l.n.r. is Hannah Borthwick, De Klerk Oelofse, Marlo Minnaar, Leon Kruger, Frieda van den Heever, André Terblanche en Johann Stassen. Voor is Wilken Calitz saam met Johan Rademan

Die skrywer en musikant Wilken Calitz se jongste radiodrama, Lewe na die noot, vertel die roerende storie van ʼn Kaapse musikant wat ʼn sukkelaarsbestaan voer.

Dié drama eggo die lewe van tragiese musikante soos Kurt Cobain en Johannes Kerkorrel.

Lewe na die noot gee die luisteraar ʼn blik op ʼn paar maande in die lewe van Johnny Botha, ʼn folksanger wat ʼn sukkelbestaan in Kaapstad voer. Botha kan die feit dat sy iTunes-verkope tot ʼn laagtepunt gedaal het en dat daar selde meer as ʼn handvol mense by sy optredes is, hanteer, maar wanneer die liefde van sy lewe skielik ernstig siek word, ontspoor meer as net sy loopbaan.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende hoof van drama, sê dié verhaal gaan luisteraars boei. “Die onderwêreld van die Kaapse middestad en die intriges van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vorm die leefwêreld waarbinne Johnny planne probeer beraam om iemand se lewe te red, moontlik ten koste van sy eie.”

Sanger-akteur André Terblanché vertolk die rol van Johnny Botha, terwyl die res van die rolverdeling uit Marlo Minnaar, De Klerk Oelofse, Hannah Borthwick, Leon Kruger, Frieda van den Heever en Johann Stassen bestaan.

Calitz is ook bekend om verhoogproduksies soos God van klank en Veertig dae, ʼn radiodrama waarmee hy in RSG en Sanlam se radiodrama-kompetisie uitgeblink het.

Lewe na die noot is onder spelleiding van Johan Rademan opgevoer en debuteer op Donderdag 16 Junie om 20:00 in Radioteater op RSG (100 tot 104 fm). Die klankbaan is spesiaal deur Calitz gekomponeer en bevat oorspronklike musiek en lirieke.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.