Luister: Operasie Umbra – ʼn vervolgverhaal

Geskryf deur Joe Kleinhans
Regie deur Bettie Kemp

Suid-Afrika maak en vernietig ses en ʼn half kernbomme in die geheim. Uraan is op ʼn unieke, inheemse wyse verryk en dit word eers in 1993 aangekondig. Bykans 30 jaar later is daar skielik ʼn toeloop van buitelandse agente na die land. Hul spore loop almal na Gansvlei, ʼn stil dorpie waar meer as een kundige uit die kernera afgetree het. Onbevestigde inligting dui egter daarop dat die kundiges geld uit die kerngeheime verdien wat vernietig sou wees.

Direkteur Frans Ludik van die Staatsveiligheidsagentskap word gevra om vas te stel waarom die skielike buitelandse belangstelling in Gansvlei, veral met betrekking tot agente uit Iran. Dit val saam met die skielike dood van die polisiebevelvoerder op die dorp, Victor Gerwel. Sy weduwee, Francis, het op haar dag, kernfisika in Moskou studeer.

Kort voor lank is daar ʼn reeks gebeure wat die gesegde “waar daar ʼn rokie is, is daar ʼn vuurtjie” bevestig. Direkteur Ludik het sy hande vol om vas te stel wat regtig destyds met die aftakeling van Suid-Afrika se kernwapenprogram gebeur het. Hy besef gou heelwat geheime uit die verlede is na die hede oorgedra. Dis of die kernsage van vroeër hom opnuut in Gansvlei afspeel. Geraamtes tuimel uit kaste. Umbra is nie verniet die donkerste deel van ʼn skaduwee nie.

Operasie Umbra is ʼn spanningsverhaal van 120 episodes, geskryf deur Joe Kleinhans, vervaardig deur Bettie Kemp in samewerking met Maroela Media.

Die karakters

  • Agent Roux Koekemoer – vertolk deur Luan Jacobs
  • Brand van Blerck – vertolk deur Leon Van Nierop
  • Francis Gerwel – vertolk deur Bettie Kemp
  • Hoofdirekteur Frans Ludik – vertolk deur Anton Dekker
  • Karien Carstens – vertolk deur Mari Molefe Van Heerden
  • Malan van Wyk – vertolk deur Stefan Vermaak
  • Matrone Bruinders – vertolk deur Su-an Müller-Marais

Tegniese versorging is deur Marius Vermaak en die vervolgverhaal is opgeneem in Maroela Media se ateljee.

Daar sal van Maandag 25 April 2022 elke weekdag ʼn nuwe episode beskikbaar wees om na te luister. Luister na die episodes hier op Maroela Media of op een van die gemeenskapsradiostasies wat die drama uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.