‘My Japan’: ʼn Radiodrama soos vertel deur ʼn tsoenami-oorlewende

Schalk Schoombie (Foto: Verskaf)

Schalk Schoombie (Foto: Verskaf)

Die bekroonde jeugdrama, My Japan, wat geskoei is op die storie van ʼn Suid-Afrikaanse onderwyseres wat die verwoestende tsoenami in Japan in 2011 oorleef het, word op 9 Junie op RSG uitgesaai.

Die bekroonde dramaturg, Schalk Schoombie, het die onderwyseres, Angelique Naudé, se ervarings in ʼn jeugdrama vasgevang. Die drama is ook vanjaar vir graad 11-leerders in Afrikaans huistaal voorgeskryf.

“Dit was die moeilikste en mees verwikkelde radioproduksie wat ek al in my 38 jaar as radio-regisseur en -skrywer ervaar het,” het Leon van Nierop, wat die regie behartig het, gesê.

Schoombie het die verhoogstuk spesiaal vir die radio verwerk. Volgens Van Nierop moes hy en sy tegniese span, onder wie Henry en Karen Gravett, lank voorberei aan die tsoenami-byklanke wat nog nie tevore op radio gehoor is nie.

My Japan vertel die storie van ʼn Suid-Afrikaanse ma en dogter wat gereeld kopstamp nadat ʼn seuntjie weggeraak en gesterf het. Die dogter, Ilsé, wil met alle geweld Japan toe om te ontvlug. Haar ma weier egter.

Voor die twee die onmin kan oplos, beland die ma in ʼn sielkundige inrigting en ʼn tsoenami tref Japan – met Ilsé daar.

Rolanda Marais (Wolwedans in die skemer) en Donna-Lee Roberts (Klein Karoo) vertolk die hoofrolle in hierdie unieke drama wat besondere hoë eise aan die spelers, tegniese span en regisseur gestel het. Melt Sieberhagen, Stefan Vermaak, Christine Voorendyk en Ursula Vorster vertolk die ander rolle.

My Japan was destyds die wenner van die Reza de Wet-jeugfees tydens die Vryfees in Bloemfontein. Schoombie is ook die skrywer van bekroonde verhoogwerke soos Liefde, Anna en Gepiekel, wat verlede jaar op RSG uitgesaai is. Hy is ook die skrywer van die roman, Boomkastele: ʼn sprokie vir ʼn stadsmens en sy joernalistieke werk is al in Rooi Rose, Sarie, Beeld en Rapport gepubliseer.

My Japan is in Johannesburg opgevoer onder spelleiding van Leon van Nierop.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.