PG du Plessis se ‘Teerling: Die pes’ op RSG

PG du Plessis. Foto: Esté Meyer Jansen

PG du Plessis (Foto: Maroela Media)

Die sesde segment van die gesoute skrywer PG du Plessis se bekroonde radiodrama, Teerling: Die pes, is op 2 Junie in RSG se Radioteater te hoor.

PG is bekend as dramaturg vir sy aangrypende verhoogdramas soos Die nag van Legio, Siener in die suburbs en Plaston: DNS-kind, en TV-reekse soos Koöperasiestories en Die Maplotters.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende hoof van drama, sê produksies uit dié skrywer se pen dien dikwels as trekpleister. “PG is volksbesit en wat uit sy pen vloei, laat by voorbaat die luisteraar (en kyker) sy oë en ore spits.”

Teerling is aanvanklik as ’n teater-eksperiment in opdrag van wyle Stephan Bouwer geskryf. Dié radiodrama bestaan uit ses kort stukke en die gehoor bepaal watter een van die ses opgevoer word met die gooi van ʼn dobbelsteen.

RSG het reeds van die ses kort dramas vir die radio verwerk en uitgesaai. Luisteraars kon al na Die opblaasmatrassie, Die berader, Die wiel draai, Die brug en O, hel! luister. Die laaste een, Die pes, is tydens vanjaar se KKNK in Oudtshoorn voor ’n gehoor opgevoer en opgeneem.

In dié finale Teerling-drama ontvang ’n dominerende skoolhoof ’n dringende SMS van haar onderdanige broer, wat as ’n laboratorium-assistent werk. Hy versoek dat sy hom by ’n sekere adres in ’n krotbuurt ontmoet. Uit die staanspoor is alles nie pluis nie, veral nie wanneer hy ’n video-opname van ’n nuusberig oor ’n reeksmoordenaar aan haar voorspeel nie…

Stemkunstenaars sluit in Stian Bam, Susanne Beyers, Willem Pelser en Sue Pyler.

Eben Cruywagen is die regisseur en het ook Teerling: Die pes verwerk. Die drama is slegs vir volwassenes. Die tema en taalgebruik mag sensitiewe luisteraars ontstel.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word elke Maandag tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.