Radiodrama: ‘Siembaba’-riller gaan jou wakker hou

Siembamba Foto: Verskaf

Siembamba Foto: Verskaf

In die radiodrama-riller en moderne tragedie, Siembamba, bevind die agtjarige Elri haar in die middel van die stryd tussen haar ouers, Bertus en Rentia, wat weier om te aanvaar hul huwelik is op die rotse.

Hoewel sy Bertus se oogappel is en hy enigiets vir haar sal doen, beland sy keer op keer op ʼn eienaardige manier in die middel.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende hoof van drama, sê dié radiodrama, geskryf deur Marion Erskine, is ʼn emosionele reis wat die luisteraar na ʼn bekende landmerk in die Oos-Kaap neem, waar die riller bittersoet eindig.

Erskine is ook die skrywer van Donatello en Volksie, destyds beskryf as die eerste “chick-lit”-roman in Afrikaans, wat deur ʼn man geskryf is. ʼn Paar jaar later het sy radiodrama, As die donker die son insluk, gevolg. Margot Luyt was die regisseur van dié debuut-radiodrama wat met ʼn ATKV-Mediaveertjie as beste radiodrama bekroon is.

Renske Jacobs, die regisseur, het gesê Pearl Martin het dit reggekry om twee jaar jonger as haar eie ouderdom te speel en dimensie aan haar karakter, die agtjarige Elri, te gee. “Sy het die hele tyd gefokus en die regisseurs se regie sonder moeite aanvaar en gevolg,” het sy bygevoeg.

Martin het haar radiodramadebuut in Riana Scheepers se ʼn Lang, lang nag beleef.

Jacobs sê ook dit is opwindend om met ʼn nuwe geslag radio-akteurs te werk. “Daar moet meer geleenthede vir kinders in radiodrama geskep word, want dit is ʼn uitsonderlike ervaring om reeds op ʼn jong ouderdom met jou stem te woeker. Daar is min dinge so lekker as radio.”

Jacobs was ook die regisseur van Wat sal die mense sê?, wat vroeër vanjaar vir ʼn ATKV-Mediaveertjie benoem is.

Gretha Brazelle, André Stolz, Eloise Cupido en Duncan Johnson se stemme kan ook in die riller gehoor word.

Siembamba debuteer op Donderdag 26 Mei om 20:00 in RSG se Radioteater.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.