‘Ragel’ gaan jou hare laat rys

Foto: pixabay, jcmanheimer

Foto: pixabay, jcmanheimer

As spookstories jou bangmaak, moet jy sorg dat jy eers genoeg moed bymekaarskraap voordat jy na die jongste Radioteater-drama, Ragel, op RSG luister.

Die radio-omroeper en dramaregisseur, Renske Jacobs, sê daar is min dinge wat mense so gou laat regop sit soos ʼn goeie spookstorie en daarom het sy die Bloemfonteinse skrywer, Fanie Viljoen, se opdrag-radiodrama, Ragel, met albei hande aangegryp.

Viljoen sê dié drama is ‘losweg’ op die waarheid gegrond. “Ek het ʼn vriend in Bloemfontein wat gek is oor oudhede. Toe ek een keer by hom gekuier het, het ek ʼn borsbeeldjie in sy huis opgemerk. Die vriend vertel toe hy het die beeld gekoop en eers na die tyd gehoor dit kom van ʼn graf af. Iets het glo een nag aan hom in sy gang verskyn en hy het toe die beeld in die tuin gaan sit. Dit het darem dadelik ophou spook,” het hy vertel.

Die hoofkarakter in Ragel is Luan en sy swakheid is die dikwels onnodige goed wat hy in tweedehandse winkels koop, sodat sy huis al soos ʼn pandjieswinkel lyk. Hy beplan egter om al die goed met sy aftrede te verkoop, sodat die inkomste vir sy en sy vrou se oudag sal voorsien.

Sy vriend, Jaco Olwagen, is ʼn glibberige vent en die eienaar van Die Wakis. Hy dwing Luan om iets te koop wat sy lewe handomkeer verander. Selfs sy vrou, Benita en skoonma, Tessa, het slapelose nagte.

Die rol van Luan word deur die sanger en akteur Cobus Venter vertolk en Karen Wessels vertolk die rol van Benita.

Die klankbaan vir Ragel is die Bulgaarse komponis George Strezov se musiek vir die rekenaarspeletjie, Victor Vran. Fanie Viljoen is ook die skrywer van radiodramas soos By verlies aan woorde, Breking en Die losprys.

Dié radiodrama word op Donderdag 23 Junie om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

M A ·

Hahaha, hoe laat dit my nou terugdink aan die Biotex radio spookstories van baie, baie jare gelede.

Sam ·

Nou mag ons dit nou nooit weer aanlyn begin luister nie? Ek werk nagskof en kan nie radio luister nie.

Waar is die link soos met Boggemsbaai en Seweweekspoort?

Sam ·

Hallo Maroela nuus. MAG ons nou NOOIT weer aanlyn luister nie????? Julle antwoord ook nie my vraag nie, moet mens nou SKREEU sodat iemand antwoord???

Sune van Heerden ·

Dagsê Sam

Ek vra om verskoning dat iemand nog nie vroeër op jou navraag reageer het nie.
Let asseblief daarop dat die radiodramas, wat deur RSG uitgesaai word (soos “Ragel”, in hierdie geval), nie deur Maroela Media vervaardig word nie. Ons berig slegs dat die radiodramas in die spesifieke tydgleuwe uitgesaai word.

Ons publiseer dit dus glad nie op Maroela Media nie, dit is nie ons produk nie.

Radiovervolgverhale soos “Boggomsbaai” en “Seweweekspoort” is deur Maroela Media self vervaardig en daarom kon ons dus dit ook op die webwerf beskikbaar maak.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.